Polisie-reddingspanne het verlede week drie dae gesukkel om ‘n lyk uit die Krokodilrivier by Brits te haal weens die talle krokodille in die rivier.
Die liggaam is Maandag in die rivier opgemerk en die polisie is in kennis gestel. “Weens die sterk strome en hoë watervlak, kon polisieduikers nie onmiddellik die liggaam bereik nie,” het polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, gesê.
Boonop het die rivier waar die lyk in die riete vasgevang was, van krokodille gewemel.
‘n Hommeltuig is Dinsdag gebruik en krokodille is deurentyd in die omgewing van die liggaam opgemerk.
“Woensdag was die omstandighede van so aard dat polisie met ‘n helikopter daarin kon slaag om uiteindelik die liggaam uit die rivier te verwyder,” het Myburgh gesê.
“Die liggaam is reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding en die identiteit van die persoon is onbekend.”