
Die bekende Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, se nuutste jeugboek is pas op die rakke, maar Die Monster in my Melkskommel is nie net vir die jeug nie – dit is een van daardie treffers wat deur oud en jonk geniet sal word.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie boek omdat dit ‘n ander tema het as vorige Afrikaanse jeugverhale. Dit spreek trauma by tieners aan op ‘n humoristiese wyse. Daarom sal jongmense juis met die karakters kan identifiseer,” sê sy.
Die boek word deur uitgewers bemark as “’n unieke en spanningsvolle verhaal wat op ’n empatiese en humoristiese wyse sensitiewe kwessies rondom trauma behandel. René van Zyl se toetrede tot jeugfiksie is vars en vol impak.”
Waaroor gaan die boek? Lexi word deur ’n monster gejag. ’n Zombie … nee, ’n zombie gekruis met ’n tokkelossie. ’n Zombeloshé. Niemand glo haar nie, behalwe haar nuwe vriende by die trauma-sensitiewe skool waarnatoe sy nou moet gaan nadat hulle gesin aangeval is tydens ’n inbraak. Saam met Zinzi, Taliep en Michael besluit Lexi sy gaan die monster vang en uitvind wie en wat daaragter steek. Nie net is sy ‘n selfopgeleide Zombie-jagter nie, maar boonop is sy hoogs paraat en het ’n rugsak vol wapens en planne. Onverwagte vriendskappe, onverwagte ontdekkings en onverwagte gevoelens laat haar egter als bevraagteken wat sy gedink het sy weet. Wat is waar, en wat is net in haar kop?
Die Monster in my Melkskommel is René se tweede jeugverhaal. In 2012 is Wee Monk’s Tale, wat oor drie tieners handel wat in die Middeleeue in Ierland en Skotland met ‘n Altaar Bybel vir Vikings moet vlug, gepubliseer. Die boek is steeds as ‘n e-boek beskikbaar.
En sy het verdere goeie nuus. Haar volgende jeugboek verskyn in Julie 2023 en word deur Human & Rossouw uitgewers gepubliseer. Die boek se naam is Tuimeltrein en sy het omtrent die drie tieners in die boek laat rondhardloop vir hul lewe. Die polisie is op hul spoor omdat hulle kwansuis ‘n roomysman vermoor het, maar dit is glad nie wat gebeur het nie. Niemand glo hulle nie. Sonder hul selfone en met ouers wat net die slegste van hul dink, moet hulle bontstaan om uit die moeilikheid te bly.
Die Monster in my Melkskommel word deur Lapa/Penguin Random House uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar of kan bestel word by lapa.co.za. Dit is ook as ‘n e-boek beskikbaar by Lapa en Amazon.