‘n Sakeman wat op pad was om kontant te bank is Maandag deur rowers agtervolg en na ‘n jaagtog en ongeluk, kon die man ontsnap, maar die rowers het met die geld gevlug.
Twee gewapende rowers in ‘n wit Mercedes het die sakeman in sy Isuzu-bakkie kort voor 10:00 op die R104 (Ou Rustenburgpad) agtervolg en naby die N4-aansluiting op die voertuig begin skiet. Die sakeman het by ‘n plaaspad ingejaag en in die hek vasgery.
“Ek was in die lande en het gesien hoe jaag die wit Mercedes verby. Die bestuurder van ‘’n Isuzu-bakkie het by ons plaaspad ingedraai, maar hy kon nie sy draai kry nie en het in die hek vasgery. Volgens my werker het die man in die Isuzu met ‘n sak uitgespring en die lande in gehardloop. Een van die gewapende mans in die Mercedes het hom agterna gesit. Die man het die sak neergegooi en gevlug waarna die rowers die sak opgetel het en in die Mercedes in die rigting van Majakaneng weggejaag het,” het Lourens van der Berg, eienaar van die plaas, gesê.
Nog ‘n boer, Pieter Kruger, was ‘n ooggetuie van die agtervolging en skietery sowat 1km vanwaar die sakeman in die plaashek vasgery het. “Ek was in die land en het die Mercedes gesien en toe klap twee skote. Ek het plat geval. Dit het gelyk of die Mercedes en bakkie mekaar stamp,” het Kruger gesê.
Die polisie is na die toneel ontbied. Polisiewoordvoerder, konstabel Ben Moabi, het die gewapende roof bevestig. “Die man was deur twee verdagtes in ‘n Mercedes in ‘n hinderlaag gelei en hulle het ‘n vuurwapen op hom gerig en beveel om te stop. Die slagoffer het aangery en toe in ‘n plaashek vasgery. Hy het met die sak geld gevlug, maar een van die verdagtes het hom agtervolg en gedreig om hom te skiet. Hy het die sak geld laat val en die verdagtes het met die geld gevlug.”
Die Mooinooi polisie ondersoek die saak en enige persoon met inligting oor die voorval, word versoek om die ondersoekbeampte, speurder-sersant Aaron Khunou by 060 987 9861 te kontak.