Siekte maai onder Hartbeespoort se hase

Die gevreesde hemorragiese haassiekte, of konynbloedingsiekte, maai steeds onder hase in Hartbeespoort en landswyd.
Volgens inligting het haasboere in die gebied, sowel as troeteldiereienaars reeds honderde diere die afgelope maand verloor. ‘n Aantal sterftes van wilde inheemse hase is ook aangemeld.
Die hele Suid-Afrika is tans in die greep van die siekte wat hase binne ‘n paar uur doodmaak. Daar word geskat dat meer as 30 000 hase landswyd aan die siekte dood is.
Volgens Gavin Grgurin, voorsitter van die Haastelersvereniging van Gauteng, is dringende ingryping nodig of ‘n ekologiese ramp is die voorland. Die voortbestaan van Suid-Afrika se inheemse spesies is ook in gedrang.
Grgurin, wat in die Hennopsomgewing woon, het self sowat 1 000 hase verloor. Sy hele boerdery is in net meer as ‘n week uitgewis.
Hartbeespoort haasteler, Sally Giebelmann, wat ook ondervoorsitter van die vereniging is, het dié week gesê tot dusver het haar boerdery nog die siekte vrygespring. “Ek sit met unieke genetika wat 20 jaar terug dateer. Ons lewe op gebed,” sê sy.
In Hartbeespoort, is groot getalle vrektes in Melodie en Rietfontein, sowel as Schoemansville aangemeld. Een teler het volgens inligting 180 hase verloor. In De Wildt is ook haasvrektes aangemeld.
Lede van die publiek wat dooie hase teëkom, of wie se troeteldiere vrek, moet dit asseblief dringend by die Haastelersvereniging by 081 765 0469, Sally Giebelmann by 082 448 9505 aanmeld.
Die siekte is hoogs aansteeklik en versprei deur water, kos, skoene, ontlasting en selfs deur insekte. Die karkasse van besmette hase moet verbrand word of ten minste 1.5m diep begrawe word.
Die DA het verlede week gesê dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika tans ‘n uitbraak van konynbloedingsiekte en voëlgriep ondervind, dit terwyl die minister van landbou verlede week gesê het dat net ‘n derde van staatsveeartsposte in die land gevul is. “Voëlgriep en konynbloedingsiekte het ‘n nasionale krisis geword. Boere het miljoene hoenders verloor en duisende konyne vrek daagliks,” het Noko Masiepa, DA-LP en woordvoerder vir landbou gesê.
Die DA het die minister versoek om ‘n dringende provinsiale ingryping te oorweeg om die huidige krisisse te takel