Spiekeries se graf is weer spiekeries!

Na die publieke versoek van ‘n bekende radio-omroeper verlede week vir hulp om die legendariese radio- en sportomroeper, Gerhard Viviers, se verwaardloosde graf in Brits op te knap, het die FAK-Kultuurnetwerk verlede week ingespring om “Spiekeries” se graf in die Langberg-begraafplaas by Brits weer spiekeries te maak.

Marianda Schlebusch, projekorganiseeerder van die FAK, sê die FAK-Kultuurnetwerk het dadelik ingespring om Viviers se graf te gaan skoonmaak toe hulle van die omroeper, Wimpie van der Sandt van Bok Radio in die Kaap, se versoek te hore gekom het.

“Die FAK-Kultuurnetwerke werk landwyd saam met ondernemings en gemeenskappe om ons Afrikanererfenis te bewaar en te versorg. Daar is ’n FAK-Kultuurnetwerk in jou omgewing wat graag betrokke wil wees by die bewaring van plaaslike monumente en gedenktekens. Saam wil ons ons erfenis beskerm en versorg, maar kan dit nie doen as ons nie weet waar bewaring nodig is nie,” sê sy.

“Wie onthou nog die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks op 25 Julie 1970 op Loftus Versfeld? Suid-Afrika moes nog ses jaar lank wag vir televisie en die legendariese sportkommentator Gerhard Viviers het dié wedstryd aan die luisteraars oor die radio beskryf. Gerhard was op sy stukke en die mees onthoubare stukkie sportkommentaar in ons land se geskiedenis het gevolg. Op die ou einde het die Springbokke met 17-6 gewen, maar meer mense sal Viviers se kommentaar as die uitslag onthou.”

Viviers se bynaam was Spiekeries, omdat dit altyd sy antwoord was wanneer iemand hom gevra het hoe dit met hom gegaan het.

LEES OOK: Bekende omroeper vra hulp om Spiekeries se graf op te knap

Viviers het egter nie net as rugbykommentator bekendheid verwerf nie. Die legendariese bokser Pierre Fourie, seker die beste Suid-Afrikaanse bokser wat nooit ’n wêreldtitel gewen nie, het aan ’n geveg teen Bob Foster deelgeneem. Weer eens was daar nog nie televisie nie en die luisteraars was op Viviers se kommentaar aangewese. Hy was vurig patrioties, en het die luisteraars vertel dat Pierre Fourie besig was om die geveg te wen, terwyl die teendeel die waarheid was.

Hy was ook ’n stemkunstenaar en bekend daarvoor dat hy Lexington-sigarette gerook het. Sy stem is vir dié advertensies gebruik in die dae toe dit nog wettig was. Viviers se praatstem is gebruik vir Martin Pols se karakter in die rolprent Hoor my lied. Sy bekendste rol as akteur was seker dié van Tom McDonald, Philip Moolman se karakter se pa in Jan Scholtz se televisiereeks Die sonkring.
Gerhard Viviers is op 15 Desember 1998 op 72 aan kanker oorlede.