Tjok-‘n-Blok voer honderde kinders

Die Tjok-‘n-Blok-projek om ongeveer 800 behoewende kinders se magies dié winter vol te maak, het afgeskop, en twee ton beesvleis is verlede week aan 15 instansies vir voedingskemas geskenk.

Die projek word deur die Brits Auto groep en Accountants on Site geborg. Bekende Suid-Afrikaanse sanger, Ruhan du Toit, is die ambassadeur vir die projek.

Elke begunstigde het 100 kg vleis ontvang. Die begunstigdes is skole, naskole en huise van veiligheid wat voedingskemas het en daagliks vir kinders gekookte kos gee, in die meeste gevalle die enigste gesonde bord kos vir die dag. Die projek verskaf in totaal 10 000 borde kos wat 782 kinders se magies hierdie winter TJOK-‘N-BLOK vol sal maak. Op die foto word die vleis dié week aan begunstigdes oorhandig wat sal sorg dat magies vol is. Van links is Janco Botha, Ebert Botha, Lynn-Marie Botha, Lizette Swart (Laerskool Sandrift hoof), Elsa Lourens en Jolanda Louwrens.