Mauritz du Preez, die geliefde hoof van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman groet die onderwys dié week, maar hy verdwyn nie uit die oog van die gemeenskap nie. Inteendeel, inwoners gaan nou nog meer van hom sien want hy betree die politieke verhoog in ‘n poging om dienslewering na Hartbeespoort terug te bring.

Mauritz du Preez

“Ek glo en voel dat ek in my 13 jaar hier by GHS, ‘n verskil gemaak het. Dit was ‘n fees om ‘n Schoemie te wees. Ek gaan egter nog steeds die gemeenskap dien. Ek hou daarvan om te dien, en ek wil nou my energie in ons dorp sit en ook hier ‘n verskil maak,” sê hy.

Du Preez is 64 jaar gelede in Brakpan gebore, het daar groot geword en later skool gegee, tot hy in 2008 na Hartbeespoort verhuis het. “Ek was ‘n onderwysstudent toe ek eendag hier in Hartbeespoort op die Magaliesberg by die ou kabelspoor gestaan het en vir die Here gevra het ek wil hier kom skoolgee. En 30 jaar later toe word ek skoolhoof by GHS. Terloops, jy sal nie glo hoeveel Brakpanners is hier in Hartbeespoort nie,” lag hy.

Hy wou sedert sy laerskoolloopbaan ‘n onderwyser word. “Ek was in standerd 3 en een van my onderwysers was my absolute held. Ek wou soos hy wees, en toe word ek ‘n onderwyser. Hy het in my geglo en my goed laat doen wat ek nie gedink het is moontlik nie. Dis wat ek vir die kinders in die skool wou gee – geleenthede en die geloof in hulself. Ek is trots op wat ek hier bereik het. Ek is trots dat hierdie plaasskool kan kompeteer met van die grootste skole in die stede.

“As ek terugkyk na my tyd by die skool, sê ek dankie. Dankie aan die kinders, die ouers en die onderwysers wat my bygestaan het om ‘n verskil te maak. Dit was ‘n spanpoging. Dit wat ek hier bereik het, is nie my monumente nie. Die monumente is die kinders wat hier deur die skool is. Ek sê dankie vir die genade van Bo en dat die Vader ‘n plan met my lewe gehad het. Dit was ‘n eer om die afgelope 13 jaar hier te dien.”

Maandag, met die munisipale verkiesing, klim hy op die politieke verhoog. Hy staan as ‘n DA-kandidaat as proporsionele raadslid en hou styf duimvas dat hy eersdaags in diens van die gemeenskap sal wees. “Ek is reg om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Hartbeespoort is Madibeng se melkkoei, hulle melk maandeliks miljoene van die inwoners in Hartbeespoort, maar nie ‘n sent kom terug vir dienslewering nie. Dit moet einde kry. As ek verkies word, moedig ek elke inwoner wat ‘n slaggat teëkom aan om ‘n foto vir my te stuur. Ek aanvaar die uitdaging. Ek is nie hier om raadsvergaderings by te woon nie, ek is hier om te help om ons dorp in sy volle glorie te herstel.”

Hy glo die feit dat dit sy voltydse “werk” sal wees, gaan ‘n verskil maak. “Ek gaan die tyd en energie hê om die taak aan te pak.”

Maar dit is ook nie al wat hy gaan doen nie. Du Preez het reeds vier digbundels gepubliseer en is tans besig met ‘n outobiografie. “En ek hoop om as raadslid uit die raadsaal aan die media en gemeenskap verslag te lewer.”

Hy en “beter helfte” Annette vier binnekort hul 40ste huweliksherdenking en is die trotse ouers van twee seuns, ‘n dogter en vyf kleinkinders. “Annette is my steunpilaar, my klankbord en ek sou dit wat ek bereik het nie sonder haar kon doen nie. En sy sal elke tree van die nuwe pad saam met my stap. Ek kan nie wag om my energie in hierdie nuwe uitdaging uit te leef nie.”

Also Read:

  • Categories: News
    Refentse residents again drowning in sewage
  • Categories: News
    Businesses rally together to improve and restore Brits
  • Categories: News
    Local flower wins another international award