Swaar gewapende plaasaanvallers het Vrydagaand, 3 Julie, op twee plase naby Brits toegeslaan en in een geval ‘n boer se hondjie aan sy sy doodgeskiet.
Tydens die eerste aanval kort na 18:00 het vier aanvallers, gewapen met 9 mm-pistole en ‘n haelgeweer ‘n pa, sy twee tienerseuns en ‘n familielid op ‘n plaas by Kareepoort by Brits oorval en vir ongeveer ‘n uur lank aangehou.
Jan Botes (50), sy twee tienerseuns, en ‘n familielid, Jan van Deventer, het in die huis gesit en koffie drink toe die honde begin blaf het. “Botes het sy seun gestuur om te gaan kyk waarvoor die honde blaf. Die seun het teruggekom en gekree daar is mans. Botes het opgespring om te gaan kyk en toe hy die deur oopmaak, druk die aanvallers ‘n haelgeweer teen sy kop,” het Thys van Heerden van die Afriforum-buurtwag, gesê.
Die mans het vir Botes gesê hy moet niks snaaks probeer nie. Hulle het hom die huis ingedwing. “Die familie is met elektriese kabels vasgebind. Die pa is aangerand en sy hondjie is aan sy sy doodgeskiet.”
Die aanvallers het gevra vir geld en die kluis. Daar was nie ‘n kluis nie en die huis is geplunder. Die aanvallers het huisware na buite gedra. “Ons lei af daar was ‘n voertuig aangesien die pa die mans hoor praat het dat hulle van Letlhabile afkom. Almal het handskoene gedra.”
Die aanvallers het hierna gevlug. “Die familie het daarin geslaag om los te kom en een van die seuns het kaal bolyf na bure gehardloop om hulp te ontbied.”
SIEN OOK: Boer baklei verbete met sambok teen moorddadige plaasaanvallers
Farm attackers flee with child
Afriforum se buurtwaglede was eerste op die toneel en die polisie het kort hierna opgedaag. Botes is nie ernstig beseer nie.
Sowat ‘n uur later is werkers op ‘n plaas in Kleinfontein by Brits ook deur vier gewapende mans in hul kamers oorval en aangehou. “Die werkers is aangerand en beroof en het in die rigting van ‘n nabygeleë plaas gevlug waar werkers ook verlede naweek aangerand is,” het Chris Degenaar van die Tactical K9-beveiligingsgroep, gesê.
“Lede van Tactical K9, die polisie en die Kleinfontein Aksienetwerk was vinnig op die toneel en het die aanvallers begin soek. Meer as 60 mense van die plaaslike werkersgemeenskap het met pangas en ander wapens by ons aangesluit om die verdagtes aan te keer. In ‘n stadium, het die gemeenskapslede ‘n bos omsingel waar hule vermoed het die aanvallers wegkruip, en die bos aan die brand gesteek om hulle uit te jaag. Na ongeveer twee ure is een van die aanvallers in ‘n land gevind waar hy geskuil het. Die gemeenskapslede het op hom toegesak en hy is in hegtenis geneem. Die verdagte is in die proses beseer en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.”
Degenaar sê dit is uiters bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap soos een man saam met die polisie en beveiligingsgroepe gewerk het om die misdadigers vas te trek. “Dit is ‘n bemoedigende voorbeeld hoe boere en werkers saamstaan as bondgenote om plaasaanvalle en misdaad in die gemeenskap te bekamp. As almal in ‘n gemeenskap saamwerk, kan ons ‘n groot verskil maak.”
Degenaar sê nog arrestasies word binnekort verwag. Werkers in die boeregemeenskap by Brits loop die afgelope maand ernstig deur onder aanvallers.