Twee rowers geskiet na Brits-plaasaanval

Twee rowers wat ‘n bejaarde egpaar Donderdagoggend op ‘n plaas in die Geluk-omgewing aangeval het, is kort na die aanval aangekeer en tydens ‘n oor-en-weer-geskietery ernstig gewond.

Gerhardus (71) en Anette (73) Gerber is ongeveer 08:00 deur die gewapende rowers op hul plaas oorval.

Volgens polisiewoordvoerder, Maria Nkabinde, was Anette besig om tuis nat te maak toe die twee rowers haar oorval het. “Albei het klapmusse gedra en en het ‘n vuurwapen gehad.”

Volgens Chris Degenaar van die Krokodil gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) het die gewapende rower Anette met die vuurwapen in die gesig geslaan.

“Die egpaar is beveel om op die grond te lê en een van die rowers het ‘n selfoon in die huis gevat en gevlug,” het Nkabinde gesê. “Plaaswerkers het alarm gemaak en lede van die gemeenskap, die plaaslike gemeenskapsbeskermingsgroep en sekuriteitsmaatskappy het onmiddellik reageer.”

Lede van PPS-sekuriteit, KGBG, Tactical K9 Africa, polisie, sowel as gemeenskapslede het die rowers in ‘n grootskaalse soektog agterna gesit en hulle met behulp van lugondersteuning deur drie helikopters van Nico Jacobs, Tokkie Botes van Skeerpoort en die polisie, opgespoor.

‘n Oor-en-weer-geskietery het gevolg en twee van die rowers is gewond. The twee rowers, albei 21, is in hegtenis geneem en is tans onder polisiebewaking in ‘n plaaslike hospitaal. Die rowers se vuurwapen is op die toneel gevind.

Die egpaar se seun het Donderdagaand op sosiale media die gemeenskap en sekuriteitsgroepe bedank vir hul merkwaardige hulp en bystand. “Namens my pa, ma en my familie, woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie. Vandag het menige man sy werk opsy gesit om ‘n medemens in nood te hulp te snel. Dis ondenkbaar om te hoor dat mense helikopters gestuur het en soveel boere van ver gejaag het om my ouers te help! Mag ons Liewe Vader ieder en elk van julle bewaar en seën.” lui die boodskap.