Een besoek aan Mauritius en bekende Hartbeespoort-inwoners, Gerdus en Annelie Brönn was “hooked”, soos hy sê. Soveel so dat hulle met hul terugkeer onmiddellik planne gemaak het om na dié klein paradys te verhuis.

Annelie en Gerdus in Mauritius

“Ek en Annelie was reg vir ‘n verandering in ons lewens,” sê Gerdus, Hartbeespoort se ‘klipman’ en eienaar van die Gem/Rock Shop in Schoemansville. “Ek het in 2018 begin skilder, sommer myself geleer, en dit het so ‘n passie geword dat ek my kar wou verkoop en net voltyds skilder. En toe verkoop ons ons huis en trek Mauritius toe om dit te doen,” lag hy.

Na twee jaar op dié pragtige klein eilandjie, het die egpaar in Desember na Suid-Afrika teruggekeer om te kom kuier, maar toe ry Covid-19 hul terugkeer in die wiele en hulle is nou in Suid-Afrika tot die reisverbod in Mauritius opgehef word. “Maar dit is lekker om weer hier te wees en ons wag geduldig,” sê hy.

Oor die impulsiewe besluit twee jaar gelede, en sy drastiese beroepsverandering is hulle nog geensins spyt nie. “Ek het my loopbaan as pottebakker begin en jare gelede ‘n pottebakkersateljee in die Magaliesburg-omgewing gekoop. Deel daarvan was ‘n klip/edelsteenwinkel. Na ‘n ruk het almal begin vra waar is die klippe dan nou, en toe beland ons in die klipbesigheid,” lag hy. “Dit het meer geld gemaak as die pottebakkerswerk. En toe skuif ons Silver Hills Gems na Hartbeespoort toe en ek het ‘n kliphandelaar geword en reg oor Afrika en die wêreld gereis om edelstene te myn en te verkoop. Dit was ook nie ‘n beplande beroepsverandering nie,” lag hy. “Net soos om skilder te word. Dit het ook toevallig gebeur. Ek het sowat twee jaar gelede ‘n nuwe kamera gekoop en toe ek op ‘n dag so met die funksies sit en speel, ontdek ek een waar jy ‘n foto in ‘n skildery kan verander. Dit het my laat dink. Ek was lus om hierdie ‘skilderye’ te skilder. Ek het verf en kwas gaan koop en aanvanklik so ‘paint by numbers’ die foto’s op doek geverf. En toe was ek verslaaf. Na die eerste paar, het ek die voorbeelde gelos en net geskilder. Ek wou niks anders doen nie.”

Kort daarna het Annelie se broer na Mauritius verhuis en die egpaar het gaan kuier. “Wel, dit was die keerpunt. Ek het ‘n paar skilderye gemaak en sommer net vir die grap by die galerye in Mauritius ingeval en gevra of hulle my soort kuns sal uitstal. Ek het drie verkoop! Dit het ons aan die dink gesit. Nou ja, die res is geskiedenis. Ons het huis toe gekom, die huis verkoop, die besigheid in my skoondogter se hande gelaat en ons is sak-en-pak in Februarie 2019 Mauritius toe.”

Natuurlik was hulle senuagtig aan die begin. “Buiten die geld wat mens moet neersit voor jy ‘n verblyfpermit kry, moet jy ‘n sekere inkomste per maand genereer. Ek was nog maar ‘n nuwe kunstenaar en bietjie onseker. En toe verkoop ek 25 skilderye met my eerste uitstalling!”

Gerdus en Annelie het pas voor hul besoek aan Suid-Afrika ‘n nuwe perseel in Grand Bay in Mauritius gehuur en beplan om met hul terugkeer ‘n studio en galery te open.

Gerdus Brönn

Die lewe in Mauritius pas hulle. “Dit is laid-back, die mense is vriendelik, die see en berge is pragtig en daar is hope Suid-Afrikaners met ‘n besige sosiale lewe. Op ‘n gewone dag sal ons die oggend in die see gaan swem en dan is ek in my ateljee. Ek is ‘n werkesel, ek skilder dag en nag as ek kan. In die middae sal ons dikwels gaan visvang of kuier by vriende. Ons het meer vriende daar as wat ons hier het en ons kuier daagliks. Dit is ‘n Suid-Afrikaanse gemeenskap wat saamstaan en mekaar help. Maar dit is heerlik om weer in ons eie land te wees, om oop vlaktes te sien en die lang pad te kan vat. En dit is skoner as meeste plekke in Mauritius.”

Of hulle vir die res van hul lewe in Mauritius gaan woon, weet hulle nie. “Dit is waar ons nou wil wees. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie en as ons wil terugkom, kom ons terug.”

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident