Veearts red luiperd uit strik

Brits-veearts, Gerhardus Scheepers het verlede week inderhaas die pad Swartklip toe gevat om ‘n luiperd uit ‘n strik te red na hy ‘n noodoproep van Noordwes natuurbewaring ontvang het.

“Ek is Woensdag deur Pilanesberg-natuurreservaat en die natuurbewaringdepartement gekontak na plaaslike inwoners hulle laat weet het ‘n luiperd is in ‘n strik langs ‘n pad gevang. Ek is dadelik daarheen. Dit is nie bekend hoe lank die wyfieluiperd reeds in die strik was nie,” sê Gerhardus.

Gerhardus het die luiperd met ‘n pyl verdoof en haar uit die strik bevry. Ons is terug Brits toe en was verlig om te sien die luiperd is nie ernstig beseer nie. Haar onderste slagtand was egter beskadig en na ‘n konsultasie met ‘n tandspesialis, moes die tand verwyder word.”

Die luiperd is hierna na die Ann van Dyk Jagluiperdsentrum geneem waar sy tans versorg word tot ‘n geskikte plek gevind word om haar vry te laat.

Brits-veearts Gerhardus Scheepers (voor) en sy assistent, Cornel van der Walt by die luiperd.

Petro van Eeden, bestuurder van die jagluiperdsentrum het gesê dit is altyd lekker om te sien hoe almal saamwerk in sulke gevalle om ‘n dier te red. “Sy is nou veilig hier by die sentrum tot sy vrygelaat kan word. Baie dankie aan almal vir die vinnige optrede en bereidwilligheid om te help. Dit wys weer dat groot dinge vermag kan word as almal ‘n klein bydrae lewer.”