Verdagte huisrower doodgeskiet tydens arrestasie

10/04/2025News

Annelize en Tom Maré.

‘n Beweerde huisrower is Donderdagaand naby Brits doodgeskiet toe die polisie, AfriForum Buurtwag en sekuriteitsmaatskappye op inligting oor die rowers reageer het. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Dit volg na ‘n aanval op Tom (65) en Annelize (55) Maré op hul hoewe naby Brits op 1 April. Die egpaar is net voor 12:00 by hul huis deur drie mans, gewapen met messe, aangeval.
Volgens Stephan Roos van AfriForum Buurtwag in Brits, het buurtwaglede en sekuriteitsmaatskappye Donderdagaand aan die polisie bystand verleen na inligting oor die aanvallers ontvang is. Drie persone is in die Bokfontein-nedersetting opgespoor. “Die verdagtes het op die polisie geskiet en daar is teruggevuur. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is ook op wapens en ander moontlike gesteelde goedere beslag gelê,” het Roos gesê.
Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Mpho Manyoba, is ‘n 36-jarige gesoekte verdagte tydens die insident doodgeskiet.
Die Maré-egpaar het Maandag, 1 April,kort voor 12:00 by die huis gekom na hulle dokter toe was vir ‘n rugbesering wat Tom opgedoen het. “Ek was besig om sakke uit die kar te laai toe die drie mans skielik verskyn. Hulle het Annelize gegryp en gewurg, en toe gryp een my en dreig my met ‘n mes,” het Tom gesê. “Hulle het ons in die huis ingedwing waar hulle my met ‘n elektriese kabel en Annelize met skoenveters vasgemaak het. In die proses het een Annelize met ‘n mes op die wang gesny. Hulle het ons monde toegebind en komberse oor ons gegooi.”
Die rowers het Tom gedwing om die kluis se sleutels te oorhandig. “Hulle het gesê hulle sal ons kele afsny as ons nie saamwerk nie.” Die mans het die huis geplunder en in die egpaar se voertuig met twee vuurwapens, selfone, skootrekenaar, televisiestel, geld en ander besittings gevlug.
“Dit het my so ongeveer 30 minute geneem om los te kom. Weens my rugbesering, moes Annelize na die bure hardloop om hulp te ontbied. AfriForum Buurtwag is ontbied,” het Tom gesê.
“Dit is weereens n bewys dat noue samewerking tussen alle rolspelers betrokke by die bekamping van misdaad tot groot sukses kan lei,” het Roos gesê.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, majoor-generaal Patrick Asaneng het gesê die nasionale polisiekommissaris het instruksie gegee dat polisielede hulself verdedig teen gewapende misdadigers wat op polisielede skiet. “Enige verdagte wat ‘n vuurwapen rig of op die polisie skiet, mag nie die geleentheid gegee word om dit weer te doen nie. Polisielede moet doelgerig en sonder huiwer optree wanneer hulle lewens, of dié van die gemeenskap, in gevaar is nie,” het hy gesê.
“Geen polisielid moet huiwer weens vrees vir ‘n moordsaak teen hom nie.”