Verdagtes skiet op buurtwag na jaagtog

Vier verdagtes het kort voor middernag Maandagaand op buurtwaglede en sekuriteitsbeamptes geskiet na ‘n jaagtog in die Melodie- en Meerhofgebied.

“Twee verdagtes is ongeveer 22:00 op sekuriteitsbeeldmateriaal opgemerk toe hulle ‘n erf in Bloodwoodstraat in Melodie betree het. Die inwoner het na buite gegaan om ‘n kraan toe te draai toe sy beweging in haar erf opmerk. Sy is onmiddellik terug na die huis en het twee mans op haar sekuriteitskameras gesien,” het Romano van der Spuy, voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum, gesê.

“Die verdagtes het vermoedelik besef hulle is opgemerk en het uit die erf gevlug en in ‘n rooi Volkswagen Polo ‘n kort afstand van die huis geklim en weggery.”

Die inwoner het alarm gemaak en Van der Spuy is na die toneel en het die Melodie/Ifafi buurtwaglede in kennis gestel.

‘n Buutwaglid het die voertuig by ‘n vulstasie in Melodie opgemerk en vier verdagtes in die motor genader. Hulle het weggejaag en buurtwaglede en sekuriteitsbeamptes het hulle agterna gesit.

“By Saartjiesnek het die verdagtes ‘n u-draai gemaak en met die sekuriteitsvoertuig gebots waarna hulle by Jasmyn ingejaag het. Hulle kon egter nie by die verperring verby kom nie en het uit die motor gespring en op die buurtwaglede en sekuritietsbeamptes geskiet voor hulle weggehardloop het.”

Die Hartbeespoort polsie het op die verdagtes se voertuig beslag gelê en ondersoek ‘n saak van poging tot moord.