‘n Spontane idee van ‘n befaamde kunstenaar van Brits, het nou nuwe deure vir kunstenaars in Suid-Afrika oopgemaak. Kobus Möller, wat wêreldwyd bekend is vir sy natuurlewe-skilderye, het die Voortrekkermonument genader vir permanente uitstalruimte vir Suid-Afrikaanse kunstenaars en die Kundramus-galery sal middel Februarie sy deure open vir die publiek.

“Dié geleentheid wat Die Erfenisstigting nou vir kunstenaars in Suid-Afrika gee maak opnuut deure vir kunstenaars oop,” sê ‘n opgewonde Kobus.
Die idee het ontstaan tydens die eerste kunsuitstalling ooit in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument tydens die Gelofteweek in Desember 2022. Die Senotaafsaal is vir die eerste keer in die geskiedenis omskep in ’n kunsgalery waarin die werk van Suid-Afrika se topkunstenaars gesien kan word.
Kobus, wie se werk al wêreldwyd uitgestal is, en die bekende Hartbeespoort-kunstenaar, Elsa Cornelissen, was twee van elf kunstenaars wat ongeveer 200 kunswerke tydens Gelofteweek uitgestal het. “Die opkoms van besoekers was wonderlik. Ons was veronderstel om die uitstalling op 17 Desember te beëindig, maar toe vra ons of ons nie die kunswerke nog ‘n rukkie kan laat hang nie. En toe begin ek dink… wat van ‘n permanente kunsgalery? Daar word reeds van Suid-Afrika se ou meesters uitgestal, so hoekom nie ‘n nuwe lewende galery vir ons nuwe meesters nie?”
Kobus en medekunstenaars het die bestuur genader wat baie positief was oor die idee en Kundramus (kuns, drama en musiek) is gebore. “Daar is ‘n verandering in die Voortrekkermonument se aktiwiteite, dit is besig om te beweeg na ‘n lewende museum van die kultuur soos dit ontwikkel. Die doelwit van die galery is om die kunswaarderingkultuur van die Afrikaner weer wakker te maak.Dit het bietjie platgeval en die COVID 19-pandemie het die kunste erg geknou, daarom is dit so ‘n opwindende geleentheid wat kunstenaars nou gebied word,” sê hy.
“Ons beoog met Kundramus om ‘n platform vir ons nuwe meesters te skep. Ons is op soek na kuns wat die toets van tyd sal deurstaan. Dit is egter nie net skilder- en beeldnde kuns nie, maar ook drama en musiek. Daar sal ‘n streng keuringsproses vir kunswerke wees. Ons sal gehalte werk uitstal en musiek en drama sal in die galery aangebied word. Die kunsgemeenskap moet baie opgewonde hieroor wees. Dit is ‘n ongelooflike geleentheid vir kunstenaars.”
Maar, is daar soveel besoekers aan die Voortrekkermonument? “Dit is verbasend hoeveel besoekers, en veral oorsese besoekers die Voortrekkermonument besoek. Ek is tans besig met drie opdragwerke vir oorsese besoeker wat tydens Gelofteweek die kunsuitstalling besigtig het. En daar is daagliks busse vol leerders wat die museum besoek, nog ‘n geleentheid om die liefde vir kuns te kweek.”
Hulle beplan reeds aan drama- en musiekuitvoerings. Johan Scholtz is tans besig om vir ons iets te skryf en die FAK het nou sy eie simfonieorkes. Dit gaan ‘n unieke plek wees vir die kunste in die land.”
Op 74 is Kobus besiger as ooit. “Volgens navorsing is ek nou in my tweede mees produktiewe stadium van my lewe,” lag hy. “Ek het meer energie as ooit, en met die jare se kennis en ondervinding word mens se passie net groter.
Ek het op die oomblik soveel werk… en ek gaan nie ophou nie!”