
‘n Nege-en-vyftigjarige vrou van Mamogalieskraal by Brits is Sondagoggend in die oog en skouer geskiet toe sy ‘n oortreder in haar huis betrap het.
Anet Coetzee, ‘n onderwyseres in Brits, het kort voor 02:00 opgestaan en by die badkamer ‘n onbekende jong seun in die huis gewaar. Toe hy haar sien, het hy by ‘n venster uitgespring. Sy is agterna om die venster toe te maak en toe skiet die oortreder se makkers haar met ‘n haelgeweer van buite deur die venster. Sy is in die oog en skouer getref.
Volgens die plaaseienaar, Leon Scheepers, het Anet self die bure gebel en vir hulp gevra. “Sy het om hulp geskree en toe die bure langs haar gebel wat my laat weet het. Sy is met ‘n haelgeweer geskiet. Daar is drie skote afgevuur en sy is langs die kop in die oog getref en in die skouer. Dit wil voorkom asof daar drie aanvallers was. Haar seun het alles beleef, maar hy is ongedeerd.” Anet woon in een van ‘n paar huise op die plaas.
Volgens Marius van Dam, ‘n vriend van Anet, wat Sondag met haar in die hospital gepraat het, het Anet en haar 11-jarige seun, Johan, onlangs na die plaas verhuis. “Sy het vir my gesê sy het vir Johan geskree hy moet wegkruip. Sy sê sy het twee mense gesien, maar daar kon meer gewees het.”
Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) was kort na 02:00 op die toneel en het Anet na die Brits Distrikshospitaal gehaas. Sy is later na die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa oorgeplaas. Sy is Maandagoggend geopereer.
Johan gaan tans by vriende tuis.
Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, ondersoek die Brits polisie ‘n saak van poging tot moord. “Enigiemand met inligting word gevra om sersant Lucky Tapala by 076 858 3078 te kontak.”
SIEN OOK: Elderly woman, workers attacked by seven gunmen during farm attack