‘n Vrou (55) en die gesin se hond is Maandag geskiet tydens ‘n gepoogde huisroof op ‘n landbouhoewe by Silkaatsnek.

Melanie Vorster is in die been geskiet en ‘n koeël het haar skrams in die bolyf getref toe drie gewapende rowers op haar losgebrand het. Vorster, haar lewensmaat, Johnny Aucamp, en ‘n vriendin het geslaap toe die rowers ongeveer 01:45 Maandagoggend toegeslaan het.
” Die swaar-gewapende rowers het eers drie sekuriteitswagte aangerand en vasgebind voor hulle na ons huis toe beweeg het. Hulle het ons Pitbull, Max, twee keer geskiet. Melanie het van die skote en die hond se getjank wakker geword. Sy het die deur oopgemaak en geskree iemand skiet vir Max, en toe brand die rowers op haar los,” het Johnny gesê.
Johnny het haar te hulp gesnel en die rowers het gevlug. “Hulle het ongeveer 20 skote afgevuur en die koeëls het oral oor die perseel gevlieg. Ons het patroondoppies van ondermeer ‘n jaggeweer en 9mm-pistool opgetel.”
Ambulansdienste en die polisie was vinnig op die toneel en Melanie is na die George Mokhari Hospitaal vervoer. “Die koeël sit naby ‘n slagaar agter haar knie vas en daar moet gewag word vir die swelling om te sak voor hulle kan opereer. As gevolg van die wond, is daar ook nou ‘n blokkasie in van die are. Sy is nog steeds in skok,” het Johnny gesê. Die gesin se hond kon ook gered word. “Hy is al weer op en wakker.”
Kormorant wag vir meer inligting van die polisie.