
‘n Dapper vrou van Hartbeespoort het twee rowers, wat haar van haar handsak beroof het, met ‘n bomdreigement afgeskrik en hulle laat spaander.
“Daar is ‘n bom in my handsak en ek gaan nou die knoppie druk…,” het Jolanda Diederiks (47) vir die rowers gesê na sy beroof is.
Jolanda was Maandagoggend 11:00 in Brits om inkopies by ‘n winkel in De Wittslaan te doen toe twee rowers op haar toegeslaan het. “Ek het uit die winkel gekom en in my bakkie geklim en dit oudergewoonte gesluit, maar dit wou nie sluit nie. Ek het dadelik in my spieëls gekyk en toe sien ek twee mans, links en regs, van agter na my kar aangestap kom. Een het my deur oopgemaak, ingeleun en gesê daar is iets met my bande fout, en toe maak nog een die passasiersdeur oop en gryp my handsak. Ek weet nie wat oor my gekom het nie, maar ek klim toe uit met my karsleutels in my hand en sê hard, in ‘n baie kalm stem, vir hulle daar is ‘n bom in my sak en ek gaan die knoppie druk. Ek het die karsleutels bo my kop gehou en begin aftel van 3 af. Een het ‘n rooi sak na my gegooi en hulle het gevlug. My handsak was in die rooi sak,” vertel sy.
Sy is self verbaas deur wat sy gedoen het. “Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, dit is van bo gestuur. Ek is 12 jaar gelede ook van my handsak beroof en ek het destyds skertsend gesê ek gaan ‘n bom in my handsak dra. Dit het seker in my onderbewussyn vasgesteek. Maar ek moet sê, ek het in so kalm, dreigende manier met hulle gepraat dat ek ook sou skrik,” lag sy.
Die skok het haar eers getref na sy gery het. “Ek het ‘n ent verder van die pad afgetrek met die bewerasies, my man gebel en toe in trane uitgebars. Dit was hulp van bo, en ek is baie dankbaar ek is ongedeerd.”