Wag koelbloedig by Hartbeespoort-reservaat doodgery

‘n Sekuriteitswag (32) by ‘n natuurreservaat in Hartbeespoort is Maandagaand koelbloedig doodgery toe hy ‘n motoris by die hek voorgekeer het.

“Die sekuriteitswag was ongeveer 18:00 by die hek van die Kommandonek-reservaat in die Kosmos-gebied aan diens toe ‘n  motoris by die hek aankom en self die versperring oopgemaak het. Die wag het die man voorgekeer en voor die motor gaan staan. ‘n Argument het ontstaan en die oortreder het koelbloeding oor die sekuriteitswag en in die reservaat in gery,” het Romano van der Spuy, voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum, gesê.

Die sekuriteitswag het kort daarna aan sy beserings beswyk en is met paramedici se aankoms op die toneel, dood verklaar. Die polisie is ontbied.

“Die motoris het ongeveer 10 minute later weer by die toneel opgedaag. Na polisielede na die sekuriteitsvideo gekyk het, is die man vir moord in hegtenis geneem.”

Hy verskyn dié week in die Brits-landdroshof vir moord.

Die polisie, sowel as ondersoekers van Bidvest Protea Coin, ondersoek die saak.