Wilrich Venter (15)

‘n Vyftienjarige leerder van Die Hoërskool Wagpos, Wilrich Venter, is verlede naweek tragies in ‘n motorongeluk oorlede.


Wilrich, ‘n graad 9-leerder, is Vrydagmiddag in ‘n botsing op die Hartebeesthoekpad (R400) dood terwyl hy en sy pa, Wilhelm, op pad was na hul hoewe in Muldersdrift. Sy pa het Wilrich vir die naweek by die skoolkoshuis gaan haal.
Volgens Irma de Beer, Wilrich se tannie, het ‘n aankomende motor voor hulle ingeswaai. “Volgens Wilhelm het dit gelyk asof daar niemand in die motor was nie. Die bestuurder het moontlik gebuk om iets op te tel. Wilhelm het uitgeswaai, maar die ander motor het hul voertuig aan die passasierskant getref,” het sy gesê.
Wilrich is op die toneel dood verklaar. Wilhelm is lig beseer. Die polisie was op die toneel en die bestuurder van die ander voertuig se bloed is getrek.
“Sy ouers is stukkend, soos enige ouer wie n kind verloor. Wilrich was ‘n klein gebore boer. Dit is al wat hy wou doen. Ek dink hy het net skool toe gegaan omdat hy moes.”
Die skool het Maandag dié roerende huldeblyk en foto op hul Facebook-blad geplaas:
“Want boer loop hier deur my are.
In die rooi grond wat na die reën my hande rooi kom vlek
Is dieselfde wat my hart my siel en gees bedek.
Ek ruik ‘n storm aankom.
Ek sien ‘n volk wat saam drom.
Liewe Wilrich Venter dit is hoe ons jou sal onthou: die seun met die groot liefde vir boer, vir die natuur en jou vriende. Jou groot glimlag wat almal op die stoepe met warmte gegroet het, jou vriendelikheid wat jy uitgestraal het en jou opregtheid gaan op die stoepe ‘n hartseer stilte gee. Jy gaan beslis gemis word.
Ons innige simpatie aan die Venter familie met die afsterwe van hulle seun wat oor die naweek in ‘n motorongeluk oorlede is. Mag tyd genesing bring en God julle versterk in hierdie tyd.”
Traumaberaders het Maandag die skool besoek om vir die leerders berading te gee

Also Read:

  • Categories: News
    Refentse residents again drowning in sewage
  • Categories: News
    Businesses rally together to improve and restore Brits
  • Categories: News
    Local flower wins another international award