Wat gemaak in ‘lockdown’?

Vir die meeste van ons is 21 dae in afsondering sonder enige sosiale kontak ondenkbaar. Ons het gaan uitvind wat Hartbeespoort se bekendes doen…

Romano van der Spuy, GPF-voorsitter

Hartbeespoort se bekende GPF-voositter, Romano van der Spuy, het reeds ‘cabin fever”! “Ek is gewoonlik gedurig in die strate, in die winkelssentrums en by misdaadtonele en saans op patrollie. Hierdie is vir my erg. Ek kan nie so stilsit nie,” sê hy.
“Ek het nou maar uit pure verveeldheid op Facebook geklim. Ek het al jare lank ‘n profiel, maar het nooit Facebook gebruik nie. ‘n Paar uur na ek my Facebook-profiel oopgemaak het, toe het ek al 100 vriende,” lag hy.
“Ek het nou ook baie meer kontak met familie en vriende. Met WhatsApp-oproepe kan jy ure praat. En dan is daar natuurlik oorgenoeg tyd om jou lewe in oënskyn te neem.”
Sy prioriteit-inkopies voor die inperking was pasta en langlewe melk. “En ek rook nou net twee sigarette per dag want ek weet ek gaan nie weer kan koop tot die inperking gelig word nie.” Toiletpapier het hulle genoeg. “Berge daarvan!”
En as die inperking verby is? “Ek gaan vir ‘n baie lang tyd in die Waterberge sit.”

Carla van der Spuy, bekende skrywer

Romano se vrou, die bekende skrywer, Carla van der Spuy, sê sy het genoeg werk om haar besig te hou. “Ek werk aan Korona-artikels vir tydskrifte. Ek is nou al keelvol vir Korona! Andersins is ek op die foon met familie en vriende en ek het Turkse-sepies ontdek! En omdat ek nie kan gaan swem nie, oefen ek nou maar met gewigte op die rusbank terwyl ek die sepies kyk,” lag sy. “En ek gebruik so derde van die dag om Romano te herinner hy moet ‘sanitise’!”
Sy het ook uitgevind hoe om maskers te maak met kombuispapier, rek en krammetjies. “Ek bly besig.” Haar prioriteit-inkopies was skoonmaakmiddels en wyn. “Ek is effe kompulsief oor higiëne en sonder wyn sal ek nie hierdeur kom nie.”
Die heel eerste wat sy gaan doen na die inperking verby is, is hare kleur, en dan reguit na haar kleinkinders vir drukkies.

Anton van Zyl, bekende Kuierkerk-dominee

Waarmee hou jy jouself besig tydens die “inperking”?
Ek probeer my normale roetine handhaaf. Werk steeds preke uit. Ek kyk baie nuuskanale om op hoogte te bly. Saans kyk ons baie ‘movies’. Ek het ook begin skryf aan ‘n outobiografie.
Doen jy iets wat jy nie onder normale omstandighede sou doen nie?
Ek bel elke oggend en middag 10 lidmate om te hoor hoe dit gaan. Ek doen nou telematiese preke en uitsendings.
Hoe hou jy kontak met vriende en familie?
Ons het WhatsApp-groepe wat gons. Sosiale media is baie aktief.
Dink jy die inperkingregulasies is voldoende?
Inperkingregulasies is vir volwassenes met visie. Dit werk nie vir die derde wêreld met geen hulpbronne nie.
Wanneer die inperking verby is – sal jy iets anders doen as vantevore?
Het nog nie tot nuwe insigte gekom nie oor nuwe lewensfilosofiëe nie.
Wat is die belangrikste twee items vir inperking?
My rekenaar met internet en selfone. Kommunikasie en kontak is belangrik.
Hoeveel rolle toiletpapier het jy opgegaar?
Ek dink daar is te min toiletpapier. So far so good.

Werner Nagel, besigheidseienaar en maratonatleet

Hardloop jy nog?
Ek probeer twee keer per dag, maar 5km om die huis is baie “laps”.
Elke oggend het iemand ‘n nuwe “challenge” vanoggend se 2 km op die balkon was bietjie rof – 5 meter gaan baie in 2 km in! Die driveway challenge was seer , die 4 km in 12 m segmente teen ‘n opdraand was nie lekker nie.
Waarmee hou jy jouself besig tydens die inperking?
Ek is besig om te swot, ek skryf my International Fraud Examiner-eksamen volgende maand.
Doen jy iets wat jy nie onder normale omstandighede sou doen nie?
Ek sit stil – dis glad nie ek nie. Ek het my vrou se kar al twee keer gewas. Het tot my skoonma begin WhatsApp!
Hoe hou jy kontak met vriende en familie?
WhatsApp en video-oproepe.
Dink jy die inperkingregulasies is voldoende?
Nee, dit maak my bekommerd dat ons dit nie ernstig genoeg opneem nie, ek is bekommerd dat as dit verleng sou word dat mense nie kos gaan hê nie.
Wanneer die inperking verby is – sal jy iets anders doen as vantevore?
Absolutely, elke dag is ‘n geleentheid, klein goedjies wat ons as vanselfsprekend aanvaar het nuwe betekenis gekry
Wat van jou belangrikste twee items vir inperking?
Koffie, baie koffie en vitamien C.
Hoeveel rolle toiletpapier het jy opgegaar?
Dink 24…

Maritza du Plessis Schoemansville raadslid

Waarmee hou jy jouself besig tydens die inperking?
Ek moet erken, dit is vir my ‘n redelike ontnugtering dat my skedule skielik wawyd oop is. Aanvanklik het ek maar meestal TV gekyk, maar ek het intussen my “tuiskantoor” uitgepak en begin navors oor hoe ek van tegnologie gebruik kan maak om tog steeds met my besigheid aan te gaan. Ongelukkig is die hoogtepunt van die dag etenstyd! Dis baie vreemd om nie nodig te hê om alles teen tyd te doen nie!
Doen jy iets wat jy nie onder normale omstandighede sou doen nie?
Ek maak baie meer kos en was baie meer skottelgoed as gewoonlik. Ek het ook die “slow cooker” uitgepak, daar is mos nou geen rede om vinnig kos te maak nie?
Hoe hou jy kontak met vriende en familie?
Meestal met WhatsApp en telefonies – ongelukkig het almal nie fasiliteite om veel meer te doen nie.
Dink jy die inperkingregulasies is voldoende?
Ek haal my hoed af vir President Ramaphosa, ek dink dit moes ‘n ongelooflike moeilike besluit gewees het om die “inperking” in te stel, in teorie glo ek dit sal werk, maar mense bly mense, en ek glo hulle sal kortpaaie probeer vat wat die regulasies dan ongedaan maak.
Wanneer die inperking verby is – sal jy iets anders doen as vantevore?
Ek dink hierdie was ‘n goeie vingerwysing vir ons almal om meer van tegnologie gebruik te maak, ons raak verknog aan ons manier van dinge doen en dis goed dat ons nou bietjie gedwing word om uit die boks te dink!
Wat is die belangrikste twee items vir inperking?
Genoeg kos en my telefoon.
Hoeveel rolle toiletpapier het jy opgegaar?
LOL! Darem net 1 pak…ek is 1 van daai ewige optimiste wat glo alles sal ok wees!

Blackie Swart bekende Hartbeespoort musikant

Waarmee hou jy jouself besig tydens die inperking?
Ek doen houtwerk as ‘n stokperdjie en het ‘n paar half-voltooide projekte, wat aandag nodig het. Maar ek wil ook nie alles binne die eerste week klaarmaak nie.. Verder werk ek van die huis af as belastingkonsultant, deesdae my “regte” werk.
Doen jy iets wat jy nie onder normale omstandighede sou doen nie?
Ek lees aanlyn tydskrifte en koerante. Ek is ‘n hard copy mens, maar hierdie help darem vir nou.
Hoe hou jy kontak met vriende en familie?
Ons WhatsApp, doen video-oproepe of Skype wanneer ons gesels. Dis darem lekker om ‘n gesig ook te sien.
Wanneer die inperking verby is – sal jy iets anders doen as vantevore?
Ek sal beslis meer bewus wees van my onmiddelike omgewing. Ek was nog altyd ‘n ‘handewasser’, maar nou is dit noodsaaklik.
Wat is die belangrikste twee items vir inperking?
Musiekinstrumente en internet.
Hoeveel rolle toiletpapier het jy opgegaar?
Toiletpapier? Ek dink so 30 rolle. Ons is drie persone wat hier gehok is, so, ek hoop nie iemand kry ‘n skielike beweging nie…