Twee plaaswerkers is Sondag geskiet en nog twee is met messe gesteek tydens twee plaasaanvalle in die Mammogalieskraal-gebied.

Die eerste aanval het kort na middernag plaasgevind toe vier mans, gewapen met ‘n vuurwapen en messe, die woonplek van werkers op ‘n plaas gestorm het. “Terwyl een aanvaller buite gewag het, het drie die werkers se woonplek oopgebreek en hulle met die wapens aangehou,” het Bennie Dercksen van die Kommando Gemeenskapsbeskerming K9 (KGB K9) gesê.

“Volgens die werkers wou die aanvallers inligting hê oor hoeveel mense op die plaas is en hoeveel wapens in die eienaar se huis is. Toe die werkers nie inligting kon gee nie, is een in die bors geskiet en ‘n ander met ‘n mes gesteek. Die aanvallers het een van die werkers gegryp en hom saam met hulle na buite gevat om verder te ondervra. Hy kon egter daarin slaag om los te kom en het weggehardloop. Die aanvallers het op hom geskiet en hy is in die arm getref.”

Sowat ‘n uur later het hulle op ‘n ander plaas in die gebied toegeslaan. “Dieselfde modus operandi is gevolg. Hulle het werkerskwartiere oopgebreek en die werkers aangehou en ondervra. Vermoedelik was hul ammunisie klaar en hulle het die werkers met die vuurwapen en messe aangerand. Nog ‘n werker is met ‘n mes gesteek. Hulle het hierna gevlug,” het Dercksen gesê.

Die KGB het die aanvallers se spoor gevolg, maar dit weer verloor.

“Werkers in dié gebied is al geruime tyd die teiken van aanvallers, maar voorheen was dit om die werkers te roof van geld en selfone. In albei dié gevalle, wou hulle net inligting oor wapens en getalle mense bekom. Die KGB ontplooi nou meer mense in die omgewing.”

Drie werkers is per ambulans na ‘n hospitaal in Brits geneem. Die polisie is op soek na die aanvallers.

Also Read:

  • Categories: Crime, News
    Hartbeespoort man shoots mother and daughter
  • Categories: News
    Refentse residents again drowning in sewage
  • Categories: News
    Businesses rally together to improve and restore Brits