75 jaar oud en in top 10 in wêreld-kampioenskappe!
Plaaslike fietsryer, Nico van Eck het pas op 75-jarige ouderdom in die Top 10 geëindig in die padfiets- wêreldkampioenskappe in Australië!

Nico van Eck (75)
Hy het pas teruggekeer van die UCI Gran Fondo padfiets-wêreldkampioenskappe in Australië waar hy in die 75+ ouderdomsgroep deelgeneem het.
“Man ek is net teleurgesteld in myself. Ek was reg om te wen. Ek weet nie of sewende plek eintlik ‘n prestasie is nie, ek was nie in die Top 3 nie en ek het nie eers ‘n ou aandenking van hulle af gekry nie,” lag hy. “En boonop moes ek die 130km sonder agterremme ry. Net voor ons moes wegtrek, kom ek agter my agterremme werk nie! Die resies was egter nie vir my te straf nie.”
Vir dié merkwaardige fietsryer het sy droom waar geword na hy verlede jaar met kanker gediagnoseer is. Hy het verlede jaar reeds die Suid-Afrikaanse grondpadresies gewen, maar op pad na die wêreldkampioenskappe is hy met prostaatkanker gediagnoseer. “Dit was verpletterend. Ek was na ‘n operasie vir maande baie siek en het gedink ek sal nooit weer in ‘n fiets se saal sit nie.” Kort voor vanjaar se Suid-Afrikaanse kampioenskappe, het ‘n vriend hom egter aangemoedig om weer die fiets te bestyg en twee weke voor die kampioenskappe het hy besluit om weer deel te neem. En ten spyte van sy onlangse trauma, daar wen hy! Nie net een nie, maar twee SA-kampioenskappe – grondpadkampioenskappe sowel as die padfietskampioenskappe.
“My motto in die lewe was nog altyd jy moet droom, en jy moet jou droom leef,” sê hy. “Om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem was ongelooflik. En ek het agtergekom ek is nou beter as wat ek ooit was. Ek het besef die Here het my nog ‘n kans gegee en ek moet dit aangryp om my droom om aan die wêreldkampioenskappe deel ‘n werklikheid te maak. Maar ek moes gewen het, man!”
Nico is vanjaar uitgenooi na die padfiets- en grondpad-wêreldkampioenskappe, maar kon net aan een deelneem. Ek het maar die padfiets in Australië gekies, dan kon ek sommer vir my dogter gaan kuier. Ek het soveel vriende vanoor die wêreld gemaak. Dit was ‘n wonderlike ondervinding.”
Nico het eers in sy dertigerjare begin fietsry. Na ‘n ernstige fietsry-ongeluk in 1994, kon hy vir 18-jaar nie ry nie. “Na my aftrede het ek weer op ‘n fiets geklim en by die Harties Fietsryklub aangesluit, bloot as ‘n stokperdjie. Voor ek my egter kon kry, het ek vir ‘n wedren ingeskryf en die res is geskiedenis.” Hy het ‘n streep prestasies agter sy naam, maar die wêreldkampioenskappe was sy groot droom.
“Ek is geseënd om op hierdie ouderdom so gesond te wees en my passie te kan uitleef.



