Bejaarde dood na plaasaanval

05/06/2025News

‘n Bejaarde man (73) is Maandag dood na hy en ‘n vriendin verlede Woensdag op ‘n plaas in Roodekoppies by Brits aangeval is.

Die rowers het ‘n kombuisvenster oopgebreek.

Louwtjie Grobler (73) en ‘n vriendin is ongeveer 01:00 deur vier gewapende mans oorval terwyl hulle geslaap het. Die rowers het ‘n kombuisvenster oopgebreek en toegang tot die huis verkry.
Grobler en sy vriendin is deur die rowers vasgebind. Volgens sy seun, Gerhard Grobler, het die rowers sy pa met ‘n vuurwapen aangerand. “Hy het beserings aan sy kop en hand opgedoen.”
Na die verdagtes die huis geplunder het, is hulle weg met Grobler se vuurwapen, selfone, hekmotor en ander besittings. Grobler en sy vriendin het ongeveer agt ure gespook om los te kom. Die vriendin kon uiteindelik by bure hulp vra.
AfriForum Buurtwag in Brits, sekuriteitsmaatskappye en die polisie was op die toneel. Afrique du Sud (ADS) Sekuriteit se honde-eenheid het die verdagtes se spore gevolg tot waar dit verdwyn het.
Twee weke voor die aanval, is die honde op die plaas vergiftig.
Grobler is aanvanklik vir vermoedelike klein beserings behandel. “My pa het Sondag egter sleg gevoel en hy is na ’n hospitaal waar hy Maandag oorlede is,” het sy seun gesê. Die aanval was ’n traumatiese ervaring vir Grobler.
Polisiewoordvoerder, konstabel Ben Moabi, het gesê ‘n huisroofsaak word ondersoek. “Enigeen met inligting oor die aanval word versoek om sersant Hosia Sebajane van Brits polisie by 082 567 2178 te kontak.