Hoë brandgevaartoestande

11/09/2025News

Die gemeenskap word gewaarsku teen hoë brandgevaartoestande in die omgewing wat nou in die droë seisoen is. Verskeie veldbrande in Hartbeespoort en Brits moes die afgelope weke deur nooddienste geblus word.

Verskeie veldbrande het die afgelope tyd uitgebreek.

Die brandgevaar-indeks in Noordwes is tans rooi, wat beteken dat toestande besonder gunstig is vir die ontstaan en vinnige verspreiding van veldbrande. Warm, droë en winderige toestande kan maklik lei tot wegholbrande wat nie net groot skade aanrig nie, maar ook lewens in gevaar kan stel.
As gevolg van die hoë brandgevaar, is wegholveldbrande ’n algemene verskynsel in die huidige droë seisoen wat verliese aan duisende hektaar weiding en ekonomiese skade vir boere tot gevolg het.
“Aangesien die brandgevaar hoog is en die gras droog is, versprei brande baie vinnig en is die veldbrand se hitte baie warm. Die voorpunt van ’n vuur se vooruitgang kan 4 km/h oorskry en die vlam lengtes kan tussen 5 tot 15 meter hoog wees. Dít kan verlies aan eiendom veroorsaak en selfs tot die dood van mense en diere lei, aangesien veldbrande gevaarlik en onvoorspelbaar is. Daar moet dus meer gedoen word om elke Suid-Afrikaner van die gevaar van veldbrande bewus te maak,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.
Volgens AfriForum is daar veral groot uitdagings met veldbrande in landelike gemeenskappe. Een van die groot oorsake van veldbrande is ondermeer asgate waarin vullis gebrand word, terwyl ander oorsake kwaadwillig is.
AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe en grondeienaars om verantwoordelik op te tree en gee die volgende riglyne:
Moenie oop vure aansteek nie: Slegs in aangewese areas soos braaiplekke mag vure gemaak word.
Beperk sweis- en slypwerk in oop velde: Waar dit onontbeerlik is, moet voldoende brandblustoerusting op die terrein beskikbaar wees. Vonkies van die masjinerie kan tot veldbrande lei.
Wees brandgereed: Grondeienaars moet seker maak hul personeel en brandbestrydingstoerusting is gereed om vinnig te reageer. ’n Veldbrand wat vroegtydig geblus word, verhoed groot skade. Daar kan bykomende hulpbronne op bystand geplaas word.
Watertenks: Maak seker dat watertenks vol gehou word vir water hervulling. Indien ’n gebied geneig is tot kragonderbrekings moet voorbereidings getref word dat die watertenks vol gehou word.
Beskerm huise en strukture: Maak skoon en snoei plantegroei om huise terug, veral waar daar grasdakke is. Hou ’n waterpyp of spuittoerusting gereed om grasdakke nat te maak indien ’n veldbrand in die omgewing uitbreek.