Johandré maak al grappies
Die sewejarige Johandré Blom van Hartbeespoort, wat twee weke gelede deur ‘n krokodil aangeval is en sy arm verloor het, sterk goed aan en maak al grappies, sê sy ouers, Corné en Amanda.

Johandré Blom (7) maak al grappies, sê sy ouers.
Johandré is by Roodekoppiesdam deur ’n krokodil van sowat 3m aangeval terwyl hy en ‘n maatjie in die vlakwater naby hulle ouers gespeel het. Sy arm is deur die krokodil afgeruk.
“Ons kan met baie dankbaarheid en seëning sê dit gaan goed. Hy was Maandag in die teater vir meer as ‘n uur. Een van die twee groot wonde op sy ribbekas is toegemaak. Die ander een is nog oop vir dreinering. Sy armpie was ook oopgemaak en skoongemaak. Dit lyk nie of daar enige infeksie is nie. Hy is Donderdag weer in die teater en as alles goed verloop, dan sal die tweede wond op sy ribbes ook toegewerk word. As daar teen Donderdag nog geen teken van infeksie in die arm is nie, begin die veloorplantingproses Maandag,” het die Blom-gesin gesê.
“Johandré hou almal op hulle tone… Hy loop, eet, drink en maak grappies. Daar is nog ‘n baie lang pad voor ons en ons vat dit dag vir dag. Ons doen die beste vir Johandré se gemoedsrus. Hy gaan nog ‘n rukkie in die intensiewesorgeenheid wees.”
‘n BackaBuddy-fondsinsameling is vir Johandré geloods aangesien die gesin nie tans aan ‘n mediese fonds behoort nie. Jacaranda FM se ‘Good Morning Angels’ het verlede week meer as R300 000 ingesamel en die BackaBuddy-rekenings staan tans op byna R400 000. Die gesin het verlede week gesê, volgens hospitaalberaming, sal Johandré se mediese kostes meer as R5 miljoen beloop.
Die gesin het hul dank aan die gemeenskap en almal wat bygedra het uitgespreek. “Ons wil baie dankie sê vir al die bystand, liefde en gebede vir Johandré.”
Laerskool Broederstroom, waar Johandré ‘n Graad 2-leerder is, bied op 11 April ‘n musiekfees ten bate van Johandré se mediese koste aan. Bekende kunstenaars soos Dewald Gouws, Irene-Lous van Wyk, Burgerd Botha en Skemer tree op. Die hekke open 15:00.
Thaba Fire & Rescue van Thabazimbi het ook aangebied om ‘n deel van hul toegangsfooi vir die jaarlikse Vuurfees Vrydag, 30 Mei, aan die fonds vir Johandé te skenk.
Besoek die BackaBuddy-blad ‘Johandré needs help after crocodile attack’ vir bydraes.



