Kommandokorps-leier dood in aanhouding, dag voor hy borgtog kry
Die leier van die Kommandokorps-beweging, Franz Jooste (71), wat vir die beweerde moord van sy huurder op De Wildt in aanhouding was, is Maandagaand oorlede, slegs ure voor die hof Dinsdag in sy afwesigheid borgtog aan hom toegestaan het.

Franz Jooste (71)
Jooste se dood het eers na die borgaansoek bekend geword. Selfs sy familie is nie in kennis gestel dat hy die vorige aand oorlede is nie.
Jooste is op 7 September op sy hoewe in De Wildt in hegtenis geneem na hy sy huurder, George Turner, doodgeskiet het. Polisie het die oorledene se vrou ondervra en sy het beweer dat sy en haar man die vorige nag ’n rusie gehad het en hy haar aangerand het. Volgens haar, het haar man later teruggekom en op gewelddadige wyse probeer om die hek, wat gesluit was, oop te maak.” Jooste het glo die aggressiewe man berispe en ‘n skoot afgevuur. Turner is noodlottig getref.
Jooste het weer verlede Vrydag in die hof verskyn en sy regsverteenwoordiger, Dylan Janse van Rensburg het in die hof gesê Jooste, wie ‘n diabeet was, se bloedsuiker is ‘n probleem. Die saak is tot Maandag vir borgaansoek uitgestel. Hy het nie Maandag by die hof opgedaag nie en die hof is meegedeel dat hy in die hospitaal opgeneem is.
Janse van Rensburg het Maandag probeer om die gevangenis in die hande te kry vir inligting oor Jooste, maar kon nie daarin slaag nie. Die hof het Dinsdag vir hom ‘n ander nommer gegee en die gevangenis het hom ingelig Jooste is nog in die hositaal.
Borgtog is in sy afwesigheid aan hom toegestaan. Kort na die hofverrigtinge en borgbetaling, is die hof meegedeel dat Jooste reeds die vorige aand oorlede is. Niemand, nie eers sy familie is skynbaar ingelig nie.
Die 235 Beweging vir Afrikaner Selfbeskikking het in ‘n verklaring gesê hulle beskou die voorval as uiters ernstig en sal aandring dat ‘n geregtelike ondersoek ingestel word om “die volle waarheid rondom sy afsterwe te bepaal.”