Kunswerk in ‘n boek

13/11/2025News

Wêreldbekende kunstenaar, Kobus Möller, van Brits is tans besig met met sy mees persoonlike en ambisieuse projek nog. Hy stel binnekort sy eksklusiewe koffietafelboek bekend wat sy lewensverhaal en kunsreis in woord en beeld vertel.

Kobus Möller.

Dié unieke publikasie, Risk and Reward – The Life and Artistic Journey of Kobus Möller, is nie net nog ‘n luukse koffietafelboek nie, dit is ‘n unieke kunswerk op sigself. Op elke buiteblad het Kobus ‘n unieke skildery geskilder. Slegs 500 van die boeke word gepubliseer.
Dié pragboek is Kobus se verhaal van sy passie vir die natuur, sy ondervindinge, en hoe dit sy kunstenaarsreis beïnvloed het. “Ek het ‘n baie interessante lewe met wild in die bos gehad. Ek wou wild leer ken soos hulle in die bos is. Ek wou nooit ‘n buffel skilder wat soos ‘n koei staan en wei nie… Ek wou hulle houding sien, met hulle interaksie hê… en natuurlik het hierdie onverantwoordelikheid my in ‘n hele paar lewensbedreigende situasies laat beland. Ek wou al lankal praat oor hoe God my in hierdie onnosele avonture beskerm het. Ek wou ‘n boek skryf oor my wedervaringe, die natuur, die impak wat dit op my kunswerke gehad het, sowel as my denke oor skilder en kreatiwiteit wat heeltemal van ander kunstenaars verskil. Ek wou my filosofie en ervarings kombineer in ‘n versamelaarsitem, en ek dink ek het dit reggekry.
Kobus het al die inhoud geskryf om by sy unieke skilderye in die boek te pas. “Ek het myself not nooit as ‘n skrywer beskou nie. Ek was dus verstom oor hoe maklik dit gevloei het. Die boek het nie hoofstukke nie, ek noem dit bewegings. Ek het baie tyd in die bos spandeer waar ek die skepping se teksture en kleure bewonder het. Dit speel die grootste rol in my kuns.”
Kobus het in die destydse Rhodesië grootgeword en van kleinsaf was kuns deel van sy lewe. “Die Zimbabwe ruïnes was my speelplek. Ons het baie ver van alles gewoon. My pa en my broer het geskilder, en dit was net natuurlik dat ek het begin teken. Die eerste dag by die skool, het die onderwyseres vir ons ‘n stuk papier en vetkryt gegee om iets te teken. Ek het ‘n galoppende perd geteken. Toe sy na n ruk kom kyk, het sy die stuk papier gegryp en is by die klas uit. En toekom sy terug met die hoof. Ek het gedink ek is in die moeilikheid. Ek kyk toe na die ander kinders se sketse, en net besef ek die Here het vir my ‘n talent gegee en dat dit ‘n groot deel van my lewe gaan word.”
Hy het nooit enige kunsopleiding gehad nie en het na skool onderwys gaan studeer. “Onderwys en ‘n kunstenaar loop nie saam nie,” lag hy. Hy het die onderwys vir ‘n pos by die onderwysdepartement verlaat waar hy die oudio visuele departement ontwikkel het. “Na 10 jaar, het ek diep gedink en met my gesin se ondersteuning besluit om voltyds te skilder. Dit was maar ‘n wipplank-reis.”
Kobus is Amerika toe met sy kuns en het dit op kunsskoue uitgestal en “geleer hoe dinge in die kunsmark werk”. Sy werk is wêreldbekend en prys in lande regoor die wêreld. “Kort voor die COVID-19-epidemie, het ek besluit hierdie seisoen is verby en ek moes as ‘n taamlik onbekende kunstenaar in Suid-Afrika ‘n lewe maak. “Dit is nie maklik nie. Die kunswêreld het verander.” Hy stal tans permanent by die Voortrekkermonument uit en vertrek weer in Januarie na Amerika vir n kunsskou.
Maar intussen is hy hard besig met die laaste voorbereidings vir die bekendstelling van sy boek. “Daar is nog 200 voorblaaie wat geskilder moet word. Dit is my mees ambisieuse projek nog, en ek staan verstom oor wat ek beleef met hierdie boek. Dit is ast’ware ‘n droom wat waar word.”
The Life and Artistic Journey of Kobus Möller is ‘n hoogtepunt in sy kunsloopbaan. Dit is ‘n kunswerk in eie reg met ‘n waardevolle en persoonlike blik in die lewe van ‘n kunstenaar wat sy inspirasie uit die skepping kry.
“Dit is ‘n visuele getuienis, ‘n gedrukte album van wildlewe skilderye wat deur geloof en oorlewing geïnspireer is.”
Die kunsboek word op 4 Desember by die Voortrekkermonument bekend gestel. Vir meer inligting, besoek Kobus se webwerf www.kobusmoller-riskreward.com.