Plaaslike inwoner se ontwerp pryk op Lugmag-straler

04/12/2025News

Plaaslike fotograaf en ontwerper, Anton Wannenburg, kon verlede week sy ontwerp vir die stert van die Hawk Mk 120 straler van die Suid-Afrikaanse Lugmag in die lug afneem toe dit laag oor Hartbeespoort gevlieg het.

Die lugmagstraler met Anton Wannenburg se ontwerp op die vlerk.

Wannenburg se ontwerp is in 2024 aangewys as die weninskrywing in ’n kompetisie wat deur die 85 Combat Flying School by Lugmagbasis Makhado aangebied is, net voor die Africa Aerospace and Defence Ekspo (AAD) 2024. Die kompetisie het kreatiewe ontwerpers genooi om ontwerpe vir die vlerk van een van die Suid-Afrikaanse Lugmag se Hawk Mk 120 vliegtuie in te skryf. Anton se konsep is en het sedertdien aan die vliegtuig sy nuwe naam besorg – “Talon.”
Die Hawk Mk 120, wat in die opleiding van toekomstige gevegsvlieëniers gebruik word, dra nou die kenmerkende ontwerp op sy stert – ’n tasbare bewys van plaaslike talent wat letterlik vlerke gekry het.
Verlede week het Wannenburg toevallig die kans gekry om dieselfde vliegtuig bo die Hartbeespoortdam af te neem toe dit laag en vinnig oor die water beweeg het. Met goeie tydsberekening kon hy indrukwekkende beelde van Talon – en sy ontwerp – op kamera vasvang.

Anton Wannenburg in aksie.

“Dit was vir my ’n ongelooflike vol sirkel-oomblik,” het Wannenburg gesê. “Nie net het ek die voorreg gehad om iets so betekenisvol vir die Lugmag te ontwerp nie, maar ek kon dit ook self fotografeer. Om jou eie werk oor jou tuisdorp te sien vlieg, is onwerklik. Die Suid-Afrikaanse Lugmag se Hawk Mk 120 geveg-opleidingstraalvliegtuie speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van toekomstige vegvlieëniers, en die “Talon”-ontwerp voeg nie net karakter aan die vliegtuig toe nie, maar beklemtoon ook die kreatiewe kundigheid wat in plaaslike gemeenskappe skuil. Vir Hartbeespoort is dit ’n herinnering dat groot oomblikke soms op klein plekke begin – en soms letterlik bo jou kop verbyvlieg,” sê hy.
Wannenburg is ‘n fotostorieverteller. “Ek vertel stories met my foto’s… of dit nou die verhaal van ‘n resieskar of ‘n rugbylegende soos Frik du Preez is… alles het stories.”
Na matriek het hy ‘n groot deel van sy lewe in die korporatiewe wêreld gewerk. “Maar dit was nie vir my nie. Ek het met ‘n kamera in die motorsportwêreld grootgeword, en ek het besluit om met my kamera ‘n bestaan te maak en my fotostorie-webblad het die lig gesien.”
Hy was ook ‘n motorsportjoernalis, maar ek het moeg geword vir skryf en besluit om liewer my foto’s die stories te laat vertel. Ek skep ‘n fotostorie oor alles wat interessant is.
hy het ‘n passie vir vliegtuie en doen baie lugvaartfotografie, sowel as sport, rugby en ook wild. “Man, ek neem foto’s van enigiets wat lyk na ‘n storie,” lag hy.
Die fotostories het mettertyd ook bemarkingsgeleenthede geskep en organisasies maak van sy dienste gebruik om gebeurtenisse te fotografeer.
Hy het groot planne vir volgende jaar. “Vroeg in die nuwe jaar sal my aanlyntydskrif VMAG beskikbaar wees en ek beplan reise na Afrika om wild te fotografeer.”
Intussen hou hy sy kamera se lens in Hartbeespoort ook gereed en dis hoekom hy die eindproduk van sy ontwerp uiteindelik in vlug op kamera kon vaslê. “Dit was ‘n uitsonderlike oomblik.”