Talentvolle plaaslike sangeres reik eerste enkelsnit uit

06/11/2025News

‘n Kraakvars nuwe stem het sopas die Afrikaanse musiekplatform getref.

Juane Oberholzer

Nykie, oftewel Juane Oberholzer, ‘n jong studenteonderwyseres van Brits, stel in November haar eerste enkelsit vry.
“Dit is ‘n droom wat nou waar geword het,” vertel die 19-jarige studentonderwyseres by Laerskool Brits. Juane het in Brits grootgeword en sing al van kleinsaf. “Ek het ‘n groot passie vir die onderwys, maar net so groot passie en liefde vir musiek. Ek hoop hierdie debuutsnit is die begin van ‘n musiekloopbaan ook.”
“Van kleinsaf het ek ’n liefde vir dans en musiek, en ek het grootgeword in ’n huis waar musiek ’n sentrale rol gespeel het. Gedurende my laerskool- en hoërskooljare het ek deelgeneem aan verskeie talentkompetisies, wat my passie vir die kunste verder versterk het. Toe ek ongeveer twee jaar gelede die bekende musiekgroep, Skemer, ontmoet het, het ons gesels oor die moontlikheid van ’n enkelsnit. Gedurende my Graad 11- en 12-jare was dit moeilik om hierdie droom na te streef as gevolg van die verskeidenheid aktiwiteite by die skool soos kultuur, sport en akademie. Ek het egter gevoel dit is belangrik om eers my matriek suksesvol af te handel voor ek ernstig aan musiek kan dink,” sê sy.
Nou, met matriek agter die rug en haar studies aan die gang, is sy vasbeslote om haar droom te volg en haar talent te ontwikkel. “Ek is opgewonde oor wat die toekoms vir my inhou. Beide my sangloopbaan en onderwysloopbaan is vir my baie vervullend. My plan is om eers my studies te voltooi, sodat ek iets agter my naam het, terwyl ek terselfdertyd aan my musiekloopbaan werk. As my musiek suksesvol verloop, sal ek dit graag later as ‘n voltydse loopbaan volg. Musiek is vir my meer as net klank – dit is vir my ‘n manier om mense te raak en stories te vertel. Ek sien uit na wat wag.”Haar eerste enkelsnit, 4 x 4 x Jou, word op 21 November in Hartbeespoort bekend gestel. “Dit handel oor ‘n regte plaasmeisie wat liefde op ‘n Grondpad vind. Die liedjie is geskryf en opgeneem deur Armand Espach, beter bekend as Skemer. Hulle het n splinternuwe ateljee in Hartbeespoort. Dit was heerlik om saam met hulle te werk en ek kan nie wag dat die res van die wêreld dit moet hoor nie!