Vrou (58) dood na aanvaller haar 2 keer skiet
‘n Vrou (58) is Saterdag koelbloedig twee keer geskiet tydens ‘n roof op ’n plaas buite Brits. Sy is enkele ure later in ‘n hospitaal dood.
Martie Dorfling is in die vroeë oggendure geskiet toe sy ‘n rower in die huis betrap het. Haar 79-jarige ma, Bettie Cornelius wat rystoelgebonde is, het hulpeloos in haar bed gelê en luister.
Volgens Dorfling se skoonseun, Emile Venter, het die rower eers die twee vroue se hond vergiftig en ‘n heining geknip om by die huis uit te kom. “Hy het die huis se sleutels met ‘n stok deur die venster gehaak en die huis oopgesluit. Sy het vermoedelik opgestaan om badkamer toe te gaan toe sy op die rower in die sitkamer afgekom het terwyl hy besig was om die televisiestel te ontkoppel. Na sy geskiet is, het hy met die televisiestel gevlug. Ouma Bettie het wakker geword en alles gehoor. Sy sê sy weet nou nog nie hoe het sy in haar rystoel gekom het om haar dogter te help nie,” het Venter gesê.
Daar is alarm gemaak en PPS Sekuriteit was kort daarna op die toneel. Dorfling is na ‘n hospitaal in Brits gehaas, maar is enkele ure later dood. “n Koeël het ‘n slagaar in haar been getref.”
Polisiewoordvoerder, konstabel Ben Moabi het die voorval bevestig en gesê die rower het ‘n televisiestel en dekodeerder gesteel. Die dekodeerder is later by die heining gevind. “Die polisie ondersoek moord- en huisroofsake. Die ondersoek duur voort en enigeen met inligting word versoek om sersant Hosia Sebajane by 082 856 1392 te kontak.”
Die twee vroue het alleen in die huis op ‘n plaas in die Mamogalieskraal-gebied gewoon. Dorfling het na haar ma omgesien.
Die Soetdoring Geleentheidsfonds-voedingskema is besig om fondse vir die begrafnis in te samel. “Martie en ouma Bettie was van SASSA-pensioen afhanklik. Ouma Bettie het egter vyf maande gelede haar ID-kaart verloor en kry sedertdien nie pensioen nie omdat die departement van binnelandse sake nie sover kom om ‘n nuwe kaart uit te reik nie,” het Elsa Lourens van die voedingskema gesê. Die donasies sal direk aan die begrafnisdiens betaal word. Mense wat wil bydra, kan 064 664 2060 kontak.
Die begrafnisdiens vind Vrydag 15:00 by die Ou Apostoliese Kerk in Brits plaas.