Hartbeespoort Mediese Sentrum – Van toeka tot nou

09/10/2025News

Hartbeespoort Mediese Sentrum vier vanjaar hul 25ste bestaansjaar en 25 jaar se mediese diens aan die Hartbeespoort-gemeenskap. Ons kyk na die geskiedenis agter dié landmerk in Hartbeespoort.

MC1

Die aanvanklike direkteure is agter, Yvonne Mighaels, Neels van der Linde, Madeleine Nilsen, Burgemeester Engels von Ludwig, Pierre van der Linde, Danie Robbertze, en voor, Linde Burger, Dr Magriet Badenhorst, Dr Reynor Kruger en Dr Johann Albasini.

In 1998/1999 het daar na gesprekke onder die dokters, die behoefte ontstaan vir ‘n fasiliteit waar al die verskillende mediese dienste saam onder een dak kon wees.
Na vele vergaderings en laat nagte se koppe krap en besin is daar teen einde 1999 begin om die Hartbeespoort Mediese Sentrum te bou op die kruising van R511 en Beethovenweg.
Dit is deur samewerking van aanvanklik elf direkteure begin en het spreekkamers ingesluit vir algemene praktisyns, ginekoloog, apteek, fisioterapeute, patologiedienste, oogkundige en sielkundiges.
Begin 2000 het ons ingetrek en later het die fasiliteite uitgebrei om ook ‘n tandarts, X-straaldienste en koffiewinkel in te sluit.
Dit was ‘n groot uitdaging en ‘n leerskool vir almal van ons, skouers is geskuur en later het van die direkteure ons verlaat wat ‘n groter verantwoordelikheid op die oorblywende direkteure geplaas het.
Met groot genade en sorg deur ons Hemelse Vader is ons deur diep waters gelei en kon ons oorblywende vier direkteure die afgelope tien jaar die sentrum bestuur tot waar dit vandag is.
Huurders het toegeneem oor die afgelope drie jaar en tans is die sentrum van hoek tot kant vol. Onder leiding en voorsitterskap van Madeleine Nilsen, het ons familie uitgebrei met tans, vier algemene praktisyns, besoekende oogarts en dieëtkundige; sessies deur mond-en-kaak chirurg en pediater; X-straaldienste, sielkundige, oogarts, apteek, oudioloog, tandarts, drie fisioterapeute, arbeidsterapeut, wondsorgsusters, patologiedienste en Wise Eye leessentrum.
Ons het ook die dienste van twee skoonmakers in die gebou, twee tuinwerkers, ‘n karwag, sentrum-bestuurder en ‘n faktotum wat toesien dat alles in en om die gebou glad verloop.
Kyk en geniet ons pragtige tuin en vergroting van ons nuwe parkeerarea.
Ons bied volledige mediese dienste aan ons gemeenskap en is diep dankbaar vir 25 jaar se ondersteuning en groei.

Direkteure_Claro1

Die huidige direkteure is Madeleine Nilsen, Linde Burger, Dr Johann Albasini en Dr Magriet Badenhorst.