Kat in Ifafi geskiet, nog vermis
Kateienaars in Ifafi is ontsteld na ‘n geliefde huiskat verlede week geskiet is. Die kat se kakebeen is vergruis en ‘n koeël het in sy skedel vasgesteek na die dier vermoedelik met ‘n .22 vuurwapen geskiet is. Die skade was van so aard dat die kat uitgesit moes word.
Die insident is by die Hartbeespoort polisie aangemeld. “Kateienaars in Ifafi moet gewaarsku word dat iemand in die omgewing katte skiet. My een kat is dood en nog een is steeds vermis na die skietery,” het André Pretorius, wat in Longtomstraat woon, aan Kormorant gesê.
Pretorius se twee katte het verlede Dinsdag nie huis toe gekom nie en ten spyte van ‘n soektog, kon hulle nie opgespoor word nie. André het een van die katte in die middernagtelike ure onder ‘n kombers gevind. “Hy was in in erge pyn. Ek het hom die volgende oggend veearts toe gevat. Die koeël het sy kakebeen vergruis en in die skedel vasgesteek. Hy kon nie gered word nie. Ghia is steeds weg en ek vermoed sy is ook geskiet. Ons is verskriklik hartseer. Albei was diere wat ons by Hartbeespoort Animal Welfare Society (HAWS) en Harties Feral Cat Rescue aangeneem het. My kat het vir meer as ‘n dag gely voor sy dood is. Dit is ‘n baie wrede manier om te sterf. Enige kateienaar weet dit is bykans onmoontlik om ‘n kat in die erf te hou. Kan hulle so groot las wees as hulle net deur jou erf beweeg?”
Buiten die feit dat ‘n saak van dieremishandeling teen die skuldige aanhangig gemaak kan word, is dit ook onwettig om in ‘n beboude gebied te skiet en kan tot groot boetes, en selfs tronkstraf lei.
“Ek wil net ander kateienaars in die omgewing waarsku dat katte vir iemand ‘n teiken geword het.”