‘n Bok is ‘n bliksem – boerbok deurboor boer se been
Afrikaans het nie verniet die spreekwoord “‘n bok is ‘n bliksem” nie! Dit het ‘n boer van Brits Sondag terdeë besef toe sy befoeterde boerbok sy been met ‘n horing deurboor het.
Gerhard van der Merwe (58) wat op ‘n plaas by Kleinfontein met boerbokke boer, het Sondag verby die bok geloop toe die bok hom met ‘n horing haak en sy kuit deurboor. Dit het sy seun en ‘n werker sowat twee minute geneem om die horing uit sy been te kry. “Die medici vra altyd hoe erg jou pyn op ‘n skaal van 1 tot 10 is. Tien is ‘n lammetjie teen dit wat ek gevoel het. Dit was selfs te seer om flou te word,” vertel Gerhard.

Gerhard van der Merwe (58) en sy kleindogter, Sally, by die hospitaal.
“Kyk, die bok ís befoeterd. Ek het hom as ‘n ses-maande-oue teelrammetjie gekoop en ongelukkig het een van die werkers hom geterg toe hy klein was. Ek het hom gewaarsku dat die bok ’n probleem gaan word. Die werker is later weg by my. Die bok is so sterk soos ‘n bees. Dit vat drie mans om hom vas te hou. Ek het Sondag seker maar te naby na sy sin verby geloop. Ek het gesien hy swaai sy kop en die volgende oomblik was sy horing deur my been.” Gelukkig was sy seun, Nardus en ‘n werker naby om die bok van hom af te kry. “Toe daai horing uit is, toe spuit die bloed. Ek het gedink ek gaan doodbloei voor ek hulp kry.”
Gerhard se vrou, Tricia, het na die teerpad gery om Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) te ontmoet om hulle die pad na die plaas te wys. “Die paramedici was ongelooflik. Ek is hul ewig dankbaar.” Gerhard is in die intensiewesorgeenheid opgeneem en HEMS se paramedici het selfs later hier ingeloer om te kyk hoe dit met hom gaan.
Daar is baie skade aan die spiere in my kuit en ek mag vir die volgende twee weke nie op die been trap nie. Dis maar moeilik, ek werk vir myself en dit maak dit moeilik.”
Sy pyn is darem beter. “Dis nou so vyf,” lag hy.
En die bok? “Ek verjaar Sondag en almal vra of hulle bok op die spit gaan kry. Dit is nie die bok se skuld nie, dis nou maar sy aard. Hy gaan egter nou net met die ooie teel en speel. Beslis nie met my nie… hy speel onregverdig!”

Die boerbok met sy bebloede horing.