Ondersteun Kuierkidz Gholfdag
KuierKidz Leersentrum in Hartbeespoort, ’n veilige hawe vir kinders en volwassenes met spesiale behoeftes, nooi alle gholfspelers, besighede en gemeenskapslede uit na hul jaarlikse fondsinsamelings-gholfdag op Donderdag, 13 Junie by Seasons Gholfbaan in Brits.
Soos altyd beloof dit om ’n top-geleentheid op die kalender te wees! Spelers, pryse, borge en veilingsitems word dringend benodig. Selfs nie-gholfers kan betrokke raak deur ’n putjie te borg en dit te beman met hul besigheid se logo, speletjies, bederfies of shooters – ’n uitstekende spanbougeleentheid!
Spelbesonderhede:
• R3800 per 4-bal – sluit speelfooie, gholfkar, halfwegetes en pryse in.
• Joggies en verversings is vir eie rekening.
• Registrasie open 09:00
• Afslaan om 10:00
Putjie 10, altyd ’n hoogtepunt, sal weer beman word deur die KuierKidz-leerders self, wie se lewenslus, opregtheid en humor elke speler se hart sal aanraak.
Skoolhoof René ‘Veertjie’ Coetzee bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning: “Sonder hierdie bydraes kan ons eenvoudig nie voortgaan nie. Die ouers dra reeds swaar aan die emosionele en finansiële las van individue met spesiale behoeftes. Daarom is fondsinsamelings soos dié nie ’n luukse nie – dit is noodsaaklik.”
“KuierKidz is ’n holistiese, onafhanklike sentrum wat in 2008 deur ouers gestig is wat ’n veilige heenkome vir hul kinders gesoek het. Vandag bedien ons meer as 40 leerders met die ondersteuning van 19 opgeleide tutors. Geen staatsubsidie is beskikbaar nie. Ons vertrou slegs op geloof, toewyding en die krag van gemeenskapsondersteuning.”
KuierKidz gebruik die SNAP-program, wat binne- en buiteklas interaksie kombineer om groei, selfvertroue en onafhanklikheid in elke leerder te ontwikkel.
Bystand en donasies is welkom, veral vir die komende gholfdag. Elke bydrae help om die deure van KuierKidz oop te hou vir dié wat dit die nodigste het.
Kontak Simoné: 072 369 1230 en info@kuierkidz.co.za
Bankbesonderhede: KuierKidz Leersentrum, Standard Bank Hartbeespoort, Spaarrekening: 015061108 (NPO: 083 056)