Wiebke se poppe dans nie net nie… hulle skilder ook!

18/09/2025News

Het jy al ‘n marionet sien skilder? Wel, Hartbeespoort kunstenaar, Wiebke Holm-Mikhula, se marionette doen.

Wiebke Holm en Kwasper.

Haar marionette, net soos sy, vertel stories op hul eie unieke manier.
“Vir my lewe my poppe. Hulle vertel stories, hulle gee lewe aan goeters… Ek dink ek lewe myself uit in my poppe,” sê dié talentvolle kunstenaar wat vele baadjies dra.
Sy het onlangs toeskouers gaande gehad toe haar kunstenaarpop “Kwasper” kunswerke by Village Mall geverf het. “Kwasper het voorheen op die vloer geverf, maar mense hou nie te veel hiervan nie, hulle is bang ek maak nie skoon nie,” lag sy.
Wiebke is nie net ‘n suksesvolle poppespeler nie, sy is ook talentvolle musikant met ‘n lisensiaat in blokfluit, skrywer en storieverteller. Sy het poppespel in Berlyn studeer.
“Ek het altyd gedink ek sal in die musiekwêreld ingaan, maar toe studeer ek drama. Na my studies het ek verder in Berlyn studeer en marionette ontdek. Ek was gek daaroor. Ek het ‘n diploma in poppespel verwerf. Terug in Suid-Afrika was dit egter nie so maklik nie. Hier was nie so baie geleenthede vir poppespel nie. “Ek het soos die destydse straatkunstenaar, kompleet met omgekeerde hoed, op die sypaadjies poppeteater aangebied. Later was daar geleenthede by feeste soos Aardklop en sy het al ‘n paar draaie in die Staatsteater gemaak.
Sy maak self haar poppe. “Soms is daar ‘n glips. Ek het vir Kwasper links gemaak terwyl ek regs is,” lag sy. “Ek geniet dit om die hele proses van die maak van die poppe tot hul uitvoering te hanteer en hulle asem te gee. Ek weet nie eintlik wat elke pop se persoonlikheid inspireer nie… ek dink musiek speel ‘n rol, my poppe het altyd instrumente by. Musiek was nog altyd en deurentyd belangrik en teenwoordig in my lewe.”
Geen wonder dat sy dan ook in ‘n one-man-band ontaard het nie. Wiebke tree gereeld op by funksies, by openbare geleenthede of promosies as ‘n eenmanorkes. En haar eenmanorkes is iets om te sien. Ten tye het sy tot 16 musiekinstrumente om haar lyf… tromme, trekklavier, fluitjies, simbale. “Niemand kan my mis nie,” lag sy. “Dit het begin met ‘n trekklavier vir atmosfeermusiek en ontaard in ‘n ‘band’!”
Sy is een van daardie mense wat alles voluit doen, en baie meer hooi op haar vurk het as die gewone mens. Sy is tans ook saam met haar tannie, Cornelia Holm, besig met die finale voorbereiding vir ‘n boek wat sy geskryf het en waarvoor Cornelia die illustrasies gedoen het. “Die boek is vir klein en ‘groot’ kinders. Ek sou dit opsom deur te sê dit gaan daaroor om die wonderlike in iets gewoons te vind.
Wiebke bestuur ook ‘n gastehuis op die familieplaas bo op die berg op Saartjiesnek. Sy is getroud met die bekende ystersmidkunstenaar, Paul Mikhula, en hulle het tweelingdogters.
“Ons is ‘n besige klomp hier op die berg,” lag sy. Sy sal dit egter vir niks verruil nie. Wie anders is gelukkig genoeg om al sy passies in een loopbaan saam te vat?
Wiebke en Kwasper is weer op 4 Oktober by Village Mall te sien. Gaan ondersteun hulle gerus.