De Wildt-man in hof vir moord op huurder

18/09/2025News

‘n Voormalige weermagkolonel en leier in die Kommandokorps-beweging het in die Pretoria-Noord Landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord na hy glo ‘n huurder op sy plot in De Wildt doodgeskiet het.

Kolonel Franz Jooste.

Kolonel Franz Jooste word daarvan beskuldig dat hy George Edward Turner op 7 September 2025 doodgeskiet het.
Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Johan van Dyk, is die polisie kort voor 14:00 op 7 September na die plot ontbied. “Toe die beamptes op die toneel aankom, het hulle ’n man met ’n skietwond in sy maag aangetref. Nooddienste het die oorledene op die toneel dood verklaar.”
Polisie het die oorledene se eggenoot ondervra en sy het beweer dat sy en haar man die vorige nag ’n rusie gehad het. “Sy het aan die polisie gesê dat haar man haar aangerand het en daarna die huis verlaat het. Hulle het ’n kamer op die beskuldigde se plot gehuur. Volgens die vrou, het haar man later teruggekom en op gewelddadige wyse probeer om die hek, wat gesluit was, oop te maak.”
Jooste het op die toneel die aggressiewe man berispe en glo ‘n skoot afgevuur. Turner is noodlottig getref.
“Jooste het homself na die voorval in ’n huis op die perseel toegesluit en aanvanklik geweier om met die polisie saam te werk. Gyselaar-onderhandelaars is ontbied en het die situasie ontlont waarna die verdagte hom aan die polisie oorgegee het,” het Van Dyk gesê.
Die polisie het ook ander vuurwapens in die huis gevind.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. Jooste is steeds in aanhouding en ‘n hofdatum vir borgtogaansoek is nog nie bekend nie.