99 en vol lewe
“Nee, ek weet nie hoekom ek so oud geword het nie, seker maar van gesond eet en oefening…”
Hartbeespoort-inwoner, Barbara Muller, het Woensdag, 15 Mei, haar 99ste verjaarsdag gevier en die elegante vrou sit nog kiertsregop, versorg haarself, gesels oor alles en nog wat, en doen boonop nog inkopies.
“Toe my pa 90 word, het ek gesê ek gaan 100 word,” lag sy. “En ek is nie so oud nie, ek het ‘n vriendin wat 104 is!”
Sy het geen skete of pyne nie, sê sy, nie eers artritis nie! “Ek drink net een bloeddrukpil per dag en het ‘n gehoorstuk. My oë begin nou slegter raak, en dit is nie lekker as alles so valerig begin raak nie, maar ek is gelukkig, ek is gesond en sonder pyne.”
Sy is in 1925 in Christiana gebore en die gesin het kort daarna na Edenvale verhuis waar sy skool gegaan en groot geword het. Na skool het sy professioneel naaldwerk gedoen en ondermeer klere vir die destydse Greatermans-kettingwinkel gemaak. “Ek het ook trourokke gemaak en borduurskilderye. Ek het daarvan gehou om met my hande te werk. Ek ek was baie lief vir tuinwerk. Ek het altyd pragtige tuine gehad waarop ek baie trots was. Hierdie hande het hard gewerk.” En sy het geglo in gesonde kos en oefening. “Dit is baie belangrik om gesond te bly.”
Sy was vir baie jare lid van die Vroue Landbou Unie en het jaarliks pryse gewen vir haar naaldwerk en gebak.
Sy is in 1946 getroud en het vier kinders, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders. Haar man is in 1990 oorlede.
Ouma Barbara woon tans in Huis van Velden in Schoemansville en sy kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike personeel nie. Sy kry wel raas omdat sy nie haar hulpknoppie druk wanneer sy byvoorbeeld badkamer toe gaan nie. “Nee wat, ek weet mos waar dit is. Hulle sê ek kan val, maar dan kan ek mos maar
weer opstaan…”
En sy laat nie op haar kop sit nie. ‘Ek is bietjie kort van humeur. Ek staan my man, ek weet mense sê ek is kwaai, maar ek kom goed met almal hier oor die weg,” lag sy.
Hoe voel sy oor die 100-mylpaal? “Ek sal nie omgee om 100 te word nie, solank ek net gesond bly.”
Na ‘n vol en bedrywige lewe is sy nou tevrede om rustig te wees. “My 90-jarige suster, in teendeel, wil nou ‘n motorfiets hê om te ry, maar ek is gelukkig om net te rus. Soos my man gesê het: My hande behoort nou aan die saligheid.”