AfriForum ondersoek aanstelling van voormalige Madibeng-bestuurder wat op borgtog uit is
Afriforum het ‘n ondersoek begin na die aanstelling van Morufa Moloto as finansiële hoof by Noordwes se parke-en-toerismeraad, ná sy as waarnemende munisipale bestuurder by Madibeng munisipaliteit in hegtenis geneem is vir bedrog.

Morufa Moloto
Sy is aangestel ten spyte van die feit dat sy tans op borgtog uit is.
Moloto is geskors na sy deur die Valke by die Madibeng munisipale kantore in hegtenis geneem is weens beweerde ongerymdhede ten bedrae van miljoene rande by ‘n ander munisipaliteit.
“Moloto, die voormalige finansiële hoof van die Kagisano-Molopo Plaaslike Munisipaliteit, is sedert 2018 in die Valke se visier vir beweerde tenderbedrog. Moloto het in die sogenaamde “skootrekenaarskandaal” na bewering ’n tender vir die aankope van agt skootrekenaars aan haar vennoot, Letladi Ramokora, se maatskappy toegestaan in ruil vir omkoopgeld. Ten spyte van dié hangende ondersoek, is Moloto in Januarie 2023 as finansiële hoof van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit aangestel en in April 2024 tot waarnemende munisipale bestuurder bevorder. Moloto en Ramokora is egter in Junie daardie jaar deur die Valke in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie. Sy is steeds uit op borgtog vir korrupsie,” het Marais de Vaal van Afriforum gesê.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake, kom Moloto se jongste aanstelling op ’n tyd wat Noordwes se parke-en-toerismeraad reeds op die rand van ineenstorting is. Die entiteit het binne die bestek van net ses maande ses waarnemende uitvoerende hoofde gehad – waarvan nie een behoorlik aangestel is nie. Intussen kan regstappe moontlik teen adv. Matshidiso Mogale, voorsitter van die raad, ingestel word vir sy herhaaldelike ontduiking van oorsigverantwoordelikhede.
Die raad word ook deur ’n ernstige kontantvloeikrisis in die gesig gestaar en kon gevolglik nie in Februarie en Maart vanjaar salarisse betaal nie.
“Die parke-en-toerismeraad het boonop ’n afwysende ouditmening by die ouditeur-generaal (OG) gekry vir sy 2023/24- finansiële state, wat beteken dat die OG, weens ontbrekende of onvoldoende dokumentasie, nie die betroubaarheid van die raad se syfers kon bevestig nie. Die gevolge is voor die hand liggend: vervalle parke, gastehuise wat gesluit is, ’n daling in besoekersgetalle en mislukte biodiversiteitsbestuur.”
AfriForum berei intussen ’n formele aansoek voor kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) om Moloto se aanstellingsverslag, kandidaat-puntelysrekords, keuringsdokumentasie (insluitend die kontrolering van kriminele- en wangedrag) en die amptelike raadsbesluit wat haar aanstelling bevestig, te bekom.
“Indien onreëlmatighede gevind word, sal verdere regstappe oorweeg word. AfriForum sal ook ’n openbare verduideliking eis van Noordwes se LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme.”