Brande teister De Wildt
Brandweereenhede en inwoners in De Wildt het die afgelope week onverpoosd geveg om ernstige brande in die omgewing te blus.
Meer as 800ha grond is deur die brande verwoes.
Brande het reeds Vrydag op verskeie plekke uitgebreek en huise bedreig. Die Working on Fire (WoF)-span in De Wildt is vroeg Saterdagoggend ontplooi en het tot laataand gespook om die brand onder beheer te kry.
Sondag het ‘n ernstige veldbrand oor die kruin teen die Magaliesberg af versprei. Die brandlyn was teen 13:00 reeds meer as 3km lank en het na verskeie plekke versprei en woonhuise bedreig.
Die WoF-brandbestrydingspan, lede van De Wildt Helpmekaar Maatskappy (DWHM), inwoners en Madibeng-brandweer het Saterdag tot ongeveer 22:30 geveg om die brande onder beheer te kry.
“Die WoF-span moes onttrek word, hulle het toe al meer as nege ure onverpoosd brande bestry,” het die DWHM gesê. Tshwane Brandweer se hulp is in dié stadium ingeroep.
Vroeg Maandagoggend het brande weer opgevlam en die WoF-span is ontplooi om huise en strukture te beveilig.
“Die publiek word gewaarsku dat die brandverbod geld tot ongeveer twee weke na dit voldoende gereën het, gewoonlik tussen 20 en 50mm reën oor ‘n tydperk van minder as twee weke. Baie van die brande word deur vullisverbranding veroorsaak, sowel as industriële werk soos sweis naby droë gras. Ons versoek grondeienaars om uiters versigtig te wees. Die brandgevaar is tans op sy hoogste.”