Die rol van maatskaplike werkers in die gemeenskap
Internasionale Maatskaplike Werkersdag word op 19 Maart 2024 wêreldwyd gevier en in Hartbeespoort bring Solidariteit Helpende Hand hulde aan die maatskaplike werkers in alle sfere van die gemeenskap.
“Ons wil dankie sê vir die onbaatsugtige en soms onsigbare werk wat maatskaplike werkers binne gemeenskappe verrig ten spyte van die uitdagings, probleme en baie negatiewe aanslae op die beroep,” sê Nadia van der Merwe, ‘n maatskaplike werker by Solidariteit.
“Dit is ’n roeping en noodsaaklikheid in ‘n gemeenskap om die mees weerlose groepe binne die gemeenskap soos die kinders, bejaardes, gestremdes en hulle families te ondersteun.
Ek was onlangs opnuut bewus gemaak van gemeenskapslede en hulpbronne se onkunde en wanpersepsie oor maatskaplike werkers se rol en verantwoordelikheid in die gemeenskap. As gevolg hiervan is dit soms moeilik vir maatskaplike werkers om hulle rol en roeping binne die gemeenskap ten volle uit te leef en ’n bate vir die gemeenskap te wees,” sê sy. “Dit is belangrik om te onthou: Maatskaplike werkers probeer eers help en slegs na herhaardelike pogings misluk, word stappe geneem.”
Solidariteit se maatskaplike werkers fokus hoofsaaklik op voorkoming en konsentreer veral op bewusmaking en beskikbare programme om kinders en gesinne by te staan. “Maatskaplike werkers, hetsy privaat of statutêr, doen eers alles in hul vermoë om met die hulpbronne tot hul beskikking families by te staan en probleme aan te spreek voor enige stappe geneem word,” sê sy.
“Ons werk hard aan voorkomingsprogramme om stappe te voorkom. Solidariteit se doel is om programme soos ouerleiding, terapeutiese dienste, ondersteunignsgroepe, voedselskemas en werkskepping aan die gemeenskap beskikbaar te stel. Ons bied ondersteunende dienste aan die statutêre maatskaplike werkers. Die statutêre maatskaplike werker wat in diens is van geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies soos die Christelike Maatskaplike Raad, Suid-Afrikaanse Vroue Federasie, Rata, Child Welfare, Caritas, en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, is die enigste maatskaplike werkers wat by magte is om kinders uit ouersorg te verwyder. Sake wat meestal by dié maatskaplike werkers aangemeld word behels weerlose groepe soos kinders, bejaardes en persone met gestremdhede wie se veiligheid bedreig word of in omstandighede leef wat hulle fisiese, emosioneel en geestelike kan skaad.”
En kinders word nie voor die voet verwyder nie, sê sy. “‘n Maatskaplike werker wat vir een van bogenoemde liggame werk sal slegs die hof nader wanneer konsultasie met die partye plaasgevind het en die omstandighede nie verbeter nie.”
Solidariteit se maatskaplike werkers fokus ook op skoolprogramme waar onderwysers en rolsplers ingelig word oor gevaartekens, die aanmeldingsproses en bystand aan weerlose kinders. “Ons verskaf pratiese hulpmiddels om rolspelers te bemagtig,” sê Nadia. “Meeste gemeenskapslede verwys of kontak die maatskaplike werker as hulle bekommerd is oor die welstand van kinders of bejaardes binne hulle gemeenskap, maar weet nie regtig wat gebeur nadat hulle hierdie sake aangemeld het nie. As gevolg van ’n wanpersepsie oor hoe die maatskaplike werker binne die gemeenskap werk, word baie sake nie aangemeld nie, dikwels ten koste van die weerlose groepe. ”
“Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike werkers beskik nie oor die mandaat om kinders te beveilig nie, maar wil graag die die gemeenskap bewus maak om sake aan te meld.
Hoe kan jy ’n Maatskaplike Werker in jou gemeenskap ondersteun?
1) As jy kennis dra van ’n saak waar kinders blootgestel word aan omstandighede wat hulle fisies, emosioneel, seksueel of geestelik kan skaad. Kontak jou naaste kinderbeskermingsorganisasie en volg die leiding van die maatskaplike werker en gee soveel as moontlik besonderhede van die saak deur aan hom/haar sodat sy/hy kan weet waar om haar ondersoek te begin.
2) Jy kan ’n verklaring by die polisie gaan maak en dit oorhandig aan die naaste kinderbeskermingsorganisasie.
Vir meer inligting kontak Nadia van der Merwe (Solidariteit Helpende Hand: Maatskaplike Werker) 083 613 1238.