“Ek ‘figure’ uit hoe om goed te doen” – Johandré Blom (7)

29/05/2025News

Die dapper klein Johandré Blom (7), wie in Maart sy arm in ‘n krokodilaanval verloor het, is dié week terug skool toe en hy kan nie uitgepraat raak hoe lekker dit is om weer sy maats te sien nie.
“Almal loop agter my aan,” glimlag hy. “Ek moes in die saal opstaan en almal het vir my hande geklap.”
Dié mannetjie, wat homself nie deur ‘n krokodil laat onderkry het nie, is ‘n inspirasie. Sy pa, Corné, vertel hy het na die aanval self kar toe geloop en later vanuit die kar in die ambulans geklim. “Toe hy na sy operasie wakker word, het hy eerste ding vir ons vertel wat gebeur het. Hy was nog nie ‘n enkele oomblik vir homself jammer nie. Die enigste tyd dat hy bietjie ‘af’ was, was in die hospitaal. Hy wou net huis toe kom. Dokters het gemeen hy sal tot drie maande in die intensiewesorgeenheid moet deurbring, maar hy was na drie weke uit! Die huis was die beste geneesmiddel.”
Johandré knik sy kop en beaam dit. “Ek was só bly om die huis te sien. Dit was so lekker,” sê hy. “Dit was nie lekker in die hospitaal nie. Die arm was nie baie seer nie, Die seerste was as hulle my gesteek het om ‘n drip in te sit.”
Johandré het ook ernstige bytwonde vanaf sy nek, oor sy rug en tot by sy buik opgedoen. “Daar was ontsteking in die wonde en dit moes tydens operasies geheg word. Hy was egter nog altyd ‘n sterk bulletjie,” sê Corné vol trots.
Johandré het verlede week met ‘n rehabilitasieprogram begin om hom voor te berei vir ‘n prostetiese arm. “Hulle het gewys hoe die arm gemaak word en alles, dit was baie interessant,” het Johandré gesê. “Ek hoop ek kan ‘n bioniese arm kry!”
Volgens Corné, moet daar eers toetse gedoen word om te kyk of ‘n bioniese arm ‘n opsie is aangesien Johandré se arm so kort afgeskeur is. “Indien dit moontlik is, sal dit egter eers gebeur as hy klaar gegroei het. Daar moet eers rehabilitasie gedoen word om die oorblywende arm voor te berei vir ‘n prostetiese arm.


“Ons is so geseënd dat Johandré so ‘n positiewe kind is,” sé sy ma, Amanda. “Natuurlik is dit ‘n daaglikse aanpassing, maar ons vat dit dag-vir-dag. Dit is absoluut die Here wat ons krag en moed gee en ons kommer wegvat. Ons is dankbaar ons kind lewe en vir sy positiewe gemoedstoestand. Ons voel regtig geseën.”
Intussen, sê Johandré, “figure” hy uit hoe om met een arm reg te kom. “Ek kan al twee glase dra… een onder die arm en een in my hand en dan maak ek die deur met my mond oop!”
Hy vra nie sommer vir hulp nie, sê sy ouers. “Hy knyp sy selfoon tussen sy tone vas ek werk op die foon. Hy speel sy Playstation met een ‘joystic’ in die mond en die ander in sy hand.”
“Gelukkig kon ek met albei hande skryf,” vertel Jeandré. “Ek kry dit by die skool reg om te skryf sonder dat die boek beweeg.”
Die ouerpaar het ook vir Johandré verskeie hulpmiddels aangeskaf soos ‘n elektriese skerpmaker vir sy potlode, ‘n handwerkmes om ‘n skêr te vervang, ‘n anti-glymat vir boeke ens.
Johandré het ook al weer gaan visvang. “Ons het gedink hy gaan bang wees vir water, maar hy het geen vrees nie,” sê Corné.
Die gesin bedank almal wat hulle finansieël en emosioneel ondersteun het. “Baie dankie. Ons fokus nou net op ons kind en sy rehabilitasie. Elke dag is daar iets nuuts, maar niks kry ons onder nie.”