Elzabe stap 340km pelgrimstog
Hartbeespoort se bekende 79-jarige inwoner en musiekonderwyseres, Elzabe Spies, het so pas ‘n 340km-staptog van Stellenbosch na Cape Agulhas voltooi en dit was steeds nie haar laaste nie.
Dié fikse ‘bejaarde’ het ‘n passie vir stap, en net wanneer sy kan, durf sy wêreldwyd die stofpaaie aan. Elzabe het letterlik al duisende kilometers se staproetes oral oor die wêreld gestap.
“Ek het al baie dele van die wêreld gestap, maar daar is nog baie oor,” lag sy.
Die onlangse Pelgrimstog van Hoop het haar 16 dae oor 340km geneem. “Ons was vier ‘Dapper Stappers’ wat die staptog aangedurf het, ek van Hartbeespoort en die ander van Benoni. Ons ouderdomme het gewissel van 66 tot 79. Ons het by Stellenbosch by die NG Moederkerk begin en gemiddeld 25 km per dag gestap. Ek het verlede jaar ook die Pelgrimstog van Hoop vanaf Uniondale na Mosselbaai gestap, maar weens die geweldige oorstromings wat die Kaap verlede jaar getref het, het ons net oor die 300 km gestap in plaas van die oorspronklike 340. Ek het daar-en-dan besluit ek wil die volledige afstand vanjaar doen,” sê sy.
“Die dorpie Pniel tussen Stellenbosch en Franschhoek was ’n belewenis. Die mense daar is baie trots op hul kultuur en geskiedenis. By al die Morawiese oud- Sendingstasies kon mens sien dat musiek ’n belangrike rol in die gemeenskap speel. Kinders leer om veral blaasinstrumente te speel. By Franschhoek het ons op La Provence Wynplaas gebly met gasvryheid uit die boonste rakke. Ek het net weer besef hoe min ons regtig van ons kultuurgeskiedenis weet. Ons het ook ’n slawemuseum besoek.”
By Villiersdorp het die ‘Dapper Stappers’ by gawe jong boere oorgeslaap wat tot ’n ent saamgestap het. “Daar het ons kennis gemaak met die fynbos wat lekker steek en krap en ook die steil Kaapse berge. Dit het ons meer as ’n uur geneem om 1 km berg-op en berg-oor te stap. Op Greyton het ek iets uit Jan van Riebeeck se tyd beleef. Daar het diere (perde,beeste,skape) vrye toegang tot die dorp. Hulle het “the right to roam”. Perde hou die gras op die sypaadjies kort. Genadendal is n kulturele juweel. Hier was die eerste onderwysers in die land opgelei en daar het ek ook die oudste kerkorrel in Suid-Afrika gesien.”
Ander plekke waardeur sy gestap is was Walkerbaai, Gansbaai,Kleinbaai,Franskraal, Baardskeerdersbos, Elim en die Sandveld. “Hier het ons die skrywer uit die Sandveld, Piet van As, ontmoet en by hulle oorgeslaap. “Die terrein het gewissel van Fynbos, grondpaaie, teerpaaie, sandpaaie en lang stappe op gladgespoelde ronde klippe deur seegolwe. Na 16 ‘tawwe’ dae het ons uiteindelik by Kaap Agulhas aangekom. Daar het die plaaslike NG Kerk se vrouedominee ons hartlik ontvang met ’n mooi sertifikaat vir elkeen. Ons kon nie glo dat ons al vier dit suksesvol sonder skete of ongevalle gemaak het nie,” lag sy.
“Ek kan nie die gevoel van dankbaarheid, vreugde en oorwinning beskryf nie.”
Elsabe het al van Mpumalanga na Namibië, die Kaap, die Mt Black 200km-roete in Frankryk deur Italië en Switserland, die Camino die Tuinroete… en baie meer gestap. “Dit is goed vir liggaam en gees. Ek hou van die natuur en om fiks te wees. Ek raai mense altyd aan om te stap terwyl hulle nog kan.”