Kabeldiewe slaan 3de keer in Ifafi toe
Kabeldiewe het vir die derde keer in sowat vier maande ‘n elektrisiteitskabel van sowat 50m op dieselfde plek in Ifafi gesteel. Groot dele van Ifafi en Melodie was Vrydag sonder elektrisiteit.
Die kabel is in ‘n beboste veld op die hoek van Howitzer- en Amandastrate en volgens sekuriteitsdienste wil dit voorkom asof die herhaalde diefstal deur verdagtes deur dieselfde diewe utgevoer word.
“Die diewe moet presies weet waar die kabel loop. Dit is diep in ‘n beboste gebied en die derde keer wat dit plaasvind,” sê Clive Fischer van PWV Sekuriteit. “Ek weet al waar om te gaan kyk as die krag in Ifafi onverwags afgaan!”
VF+-raadslid, Guillaume Clousten het die Madibeng-munisipaliteit herhaaldelik versoek om die beboste gebied te ontbos sodat die ligging van die kabel sigbaar is. “Tans kan die diewe onverstoord kabels opgrawe want hul aktiwiteite is nie sigbaar nie,” het hy gesê.
Kormorant het ‘n navraag aan die Madibeng-munisipaliteit gerig oor die herhaaldelike diefstal en versoeke om die gebied te ontbos. Geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.