Kuierkidz Gholfdag
Alle gholfspelers word uitgenooi na die jaarlikse Kuierkidz Gholfdag-fondsinsamelingsgeleentheid op 17 Mei ten bate van dié veilige hawe vir kinders met spesiale behoeftes.
Vanjaar sal die gewilde gholfdag weer by Seasons-gholfbaan plaasvind en soos in die verlede, beloof dit om ‘n dag te wees wat nie gemis moet word nie. Kuierkidz vra gholfspelers en borge om asseblief die gholfdag te ondersteun.
Dit is die ideale geleentheid vir bemarking van sakeondernemings. Borg ‘n putjie en maak dit pret met speletjies, shooters of iets om die spelers mee te bederf. Dis ook ‘n lekker spanbougeleentheid vir besighede.
Om in te skryf kos R3500 vir ‘n 4-Bal en sluit speelfooie, gholfkar, halfwegetes en prysuitdelingsfunksie in. Joggies en verversings is op eie koste. Registrasie is om 09:00 en afslaantyd is 10.00.
Soos in die verlede, sal Kuierkidz-leerders die tiende putjie beman en die spelers vermaak met hulle grappies en onblusbare lewensvreugde. Dit het verlede jaar vir groot vermaak gesorg.
Die bekende musikant, Evert Swart, sal deurentyd vir musiekvermaak sorg.
Die skoolhoof, René ‘Veertjie’ Coetzee bedank die gemeenskap vir elke oop hand en ondersteuning. “Sonder hierdie hulp kan die sentrum nie voortbestaan nie. Bedryfskostes is baie hoog en ouers dra swaar aan al die uitdagings soos deurlopend mediese sorg. Daarom probeer Kuierkidz skoolgelde aanvul met fondsinsamelings soos dié.”
Vir meer inligting kontak Kuierkidz: Simone: 072 3691230 of epos kuierkidz101@gmail.com. Donasies: Kuierkidz leersentrum, Standard bank Hartbeespoort, spaarrekening nommer: 015061108.
Die sentrum is ‘n nie-winsgewende maatskappy (NPO 083 056) wat daarop ingestel is om kinders met ernstige breingestremdhede te stimuleer sodat hul ‘n betekenisvolle lewe kan lei. Ouers van hierdie kinders bestuur self die privaat-sentrum en geen staatshulp is beskikbaar nie. Kuierkidz leersentrum is in 2008 in Hartbeespoort begin deur ouers wie se kinders geen ander heenkome gehad het nie. Daar is met twee kinders begin en tans is daar meer as dertig kinders en twaalf opgeleide tutors. Gewone skole kan nie in die behoeftes van hierdie spesiale kinders voorsien nie. Spesiale onderrig, oefeninge en stimulasie is nodig op ‘n een-tot-een basis om elke kind se unieke uitdagings te kan aan te spreek en te ontwikkel.