Skryf in vir die Hartbeespoort Kunstefees

02/05/2024Events, News

Die 36ste Hartbeespoort Kunstefees vind van 24 Julie tot 7 Augustus 2024 by verskeie lokale in die Hartbeespoort-omgewing plaas en kunstenaars word genooi om nou al in te skryf.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 14 Junie 2024 en die koste per item per inskrywing beloop R50.00. Die volgende afdelings word aangebied: Kuns, drama, klavier, instrumentaal, kitaar en klawerborde, populêre musiek, dans, formele sang en kore en skryfkuns. Kunssiniges kan gerus die woorde laat rol en limirieke inskryf. Die Kunstekomitee het ook ‘n nuwe afdeling, modelwerk, by die lys gevoeg en sien baie daarna uit om hierdie afdeling se vordering dop te hou.
Die Hartbeespoort Kunstefees het slegs ‘n voorgeskrewe kunstema, verder het deelnemers totale vryheid van keuses aangaande werke, stukke of aanbiedings. Sodoende behou elke deelnemer of groep eie identiteit en persoonlikheid. Die kunstema vanjaar sluit aan by die Olimpiese Spele wat in Parys, Frankryk gaan plaasvind later vanjaar en is vir gr. 000 tot gr. 3: Speletjies. Vir die kunstenaars gr. 4 tot volwassenes is dit Kampioene in Parys. Hierdie tema kan ook in die ander genre deurgevoer word, maar is nie verpligtend nie.
Die volledige reëls, inskrywingsvorms vir alle afdelings, affiliasiefooie en datums van die verskillende afdelings, is in ‘n prospektus uitgeensit. Belangstellendes kan navrae rig met ‘n e-pos stuur aan eurika.leroux@apms.co.za asook om ‘n prospektus te bekom.
Die publiek is welkom om enige afdeling by te woon waarvan die toegang gratis is. Tydens die Openingsaand, wat op 24 Julie 2024 by die NG Kerk, Maraisstraat, Schoemansville sal plaasvind, kan die publiek ook die geleentheid kry om die uitstalling van die kunswerke te bewonder en te luister na plaaslike kunstenaars wat met hul talent die begin van die fees gaan afskop. Die uitstallings sal ook deur die loop van die dag na die opening oop wees vir besigtiging. Skole, studio’s (dans, sang, musiek, drama, ens.) en individue en groepe kan inskryf. Ons gaan weer deelnemers ook van Pretoria en Potchefstroom sien optree. Kom geniet saam met die Hartbeespoort Kunstekomitee ‘n 36ste Kunstefees, wat talent uit die hoogste rakke gaan aanbied.