Tannie Jossie ‘n voorbeeld vir almal
Tannie Jossie Schoeman, inwoner van Bateleur Aftreeoord in Schoemansville, word op 7 April 98 jaar oud. Sy is gebore in Laingsburg in die Groot Karoo en het as plaasmeisie saam met haar broers en susters elke Maandag die langpad oor die berg te voet aangedurf na die plaaskool. Vrydae het hulle weer die pad terug plaas toe geneem. Gedurende die week het hulle by die skoolonderwyser gebly. Haar pa was ‘n veeboer en het baie getrek vir weiding, wat skaars was in die droeë Karoo. Vakansies moes die kinders gehelp het om die vee na beter weiding aan te jaag. Tannie Jossie het so geleer om van die natuur te hou en te respekteer, vandaar haar liefde vir tuinmaak.
Na sy in Mosselbaai gematrikuleer het, gaan werk sy as 18-jarige by die Fort England Psigiatriese Hospitaal in Grahamstad (Makhanda) vir 47 jaar tot haar aftrede op 65-jarige ouderdom. In 1996 verhuis sy en haar man na Pretoria en in 2006 na Bateleur Aftreeoord, Hartbeespoort. Tannie Jossie geniet haar twee kinders, een kleindogter en twee agterkleinseuns se geselskap en kuiers.
Hoe bly tannie Jossie nog so gesond en aan die gang? Sy glo daaraan dat jy jouself moet besig hou met dinge wat iets vir jou beteken. Sy het op 18-jarige ouderdom begin tennis speel en haar rakette eers op 85-jarige ouderdom weggepak en op 90-jarige ouderdom haar rolbalskoene en hoed. Haar flinke en vinnige stap elke oggend laat menigte wat saam met haar stap, na 1km tou opgooi. Hulle kan net nie by bly nie. Loop jy vroeg in die oggend en laat middag verby haar huis, is sy met die genade van God, doenig in haar tuin. Dit is haar groot trots. Sy speel graag kaart saam met haar 74-jarige seun en kan nie vir Vrydae wag om die blokkiesraasiels van die Huisgenoot in te vul nie. Sy sê dit hou haar brein aktief en wakker.
Sy sê dit is vir haar ‘n groot seëning om so ‘n hoë ouderdom te kan bereik. Sy skryf dit toe aan haar gelowige ouers, wat hulle as kinders grootgemaak het om in ’n verhouding met God te lewe. Om Hom eerste te stel in alles, getrou te bly aan Sy waarheid en gehoorsaam te wees aan sy Woord. Haar motto vir die lewe: ‘n Gesonde gees huisves‚‘n gesonde liggaam.
Baie geluk, Tannie Jossie en mag jou 98ste verjaarsdag saam met vriende en familie‚‘n besonderse belewenis wees.
(Verskaf deur Eurika le Roux)