26 welsynorganisasies baat by wildsvleisprojek

05/09/2024News

Miquel Goncalves van Broederstroom Slaghuis en Debbie Suhultz van Solidariteit Helpende Hand.

Solidariteit Helpende Hand het tydens hulle HelpJag projek-in Hartbeespoort meer as 500kg wildsvleis ingesamel om aan 26 welsynorganisasies te skenk.
HelpJag is ‘n projek van Solidariteit Helpende Hand wat welsynorganisasies se werk ondersteun. “Die meeste van dié organisasies kry verskeie kosskenkings, maar baie behoeftiges eet vir maande geen vleis nie bloot omdat hulle dit nie kan bekostig nie,” sê Nadia van der Merwe van Solidariteit Helpende Hand.
Die organisasie het in April ‘n beroep op jagters in die gebied gedoen om karkasse aan HelpJag te skenk.
Jagters het 17 bokke, altesaam 528kg vleis, geskenk en dit is goedgunstiglik deur Broederstroom Slaghuis vir Solidariteit Helpende Hand verwerk.
“Met hierdie skenkings van wonderlike jagters vanuit Hartbeespoort en Miquel Goncalves van Broederstroom Slaghuis kon ons 26 organisasies deur die winter ondersteun, Kos is verskaf aan tehuise vir bejaardes en gestremdes, voedingskemas by skole, welsynorganisasies en kerke. Baie dankie ook aan ons Solidariteit Helpende Hand Hartbeespoort-tak wat gehelp het om die vleis te versprei en Laerskool Generaal Hendrik Schoeman wat gehelp het om die projek te dryf. Ons waardeer elkeen. Baie dankie!”