7-jarige van Hartbeespoort na wêreldkampioenskappe
Hy is net sewe jaar oud, maar reeds op pad na die skopboks-wêreldkampioenskappe. En hy is oortuig hy gaan dit wen.
Klein WJ Pio van Hartbeespoort is sovêr die jongste deelnemer aan die skopboks-wêreldkampioenskappe wat later dié maand in Hongarye gehou word. “Ek weet ek kan wen en ek sien baie uit,” sê die klein haasbek-seuntjie met selfvertroue. WJ het die Noordwes skopbokskampioenskappe gewen en tweede plek in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe behaal. Hy is lid van die Red Dragon-skopboksklub in Hartbeespoort en het ‘n pers gordel.
WJ het op vierjarige ouderdom met skopbokslesse begin. “Ons het hom ingeskryf om sy groot motoriese vaardighede te ontwikkel. Omdat hy in Desember verjaar, sou hy vroeër as ander kinders begin skoolgaan en ons wou hom voorberei. Wat ons nie geweet het nie, is dat hy so ‘n passie vir die sport sou ontwikkel,” sê WJ se pa, Hennie Pio.
WJ was maar vyf toe hy vir die eerste keer in ‘n skopbokswedstryd teen ‘n agtjarige teenstander deelgeneem het. Hy het wel nie dié een gewen nie, maar die volgende jaar het hy twee goue medaljes ingepalm. Hierna was daar geen keer aan hom nie.
“Ek is baie lief vir skopboks. Ek wil nie ander sport doen nie. Rugby is net ‘n klomp mense wat ‘n bal skop. Ek hou nie daarvan nie,” sê hy kordaat. “Ek wil net skopboks en alles wen.” Kry hy nie seer nie. “Ek het een keer ‘n seer skop in die gesig gekry en nou keer ek,” lag hy. “Nee, ek is nie bang vir seerkry nie.”
WJ oefen vier dae per week en ook naweke en vakansies. “Hy is ongelooflik gemotiveerd met soveel self-dissipline. Hy sit baie in en ons is só trots op hom. Boonop presteer hy akademies baie goed en behaal hoë punte,” sê sy pa. Hy sing ook in die skoolkoor.
WJ het egter onlangs nog ‘n belangstelling ontwikkel, naamlik visvang. “Ek het televisieprogramme oor visvang gekyk en toe wil ek dit ook doen. Nou moet my pa-hulle my dam toe vat om vis te vang. Dit is baie, baie lekker.”
WJ en sy ma, Isabel, vlieg oor sowat twee weke Hongarye toe vir die wêreldkampioenskappe. Die klein mannetjie ken hul reisplan uit sy kop. Hy vertel hoeveel ure hulle gaan vlieg, waarheen en hoe lank hulle vir aansluitingsvlugte sal moet wag. “Ek was al op ‘n vliegtuig toe ek drie was, maar ek kan dit nie onthou nie. So, dié sal eintlik my eerste vlug wees wat ek onthou, Ek kan nie wag nie. En ek dink ek gaan wen!”
Hartbeespoort hou duime vas, WJ!