Arc de Triomphe by GHS opgerig
‘n Indrukwekkende Arc de Triomphe is onlangs by die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman opgerig om die skool se 70ste en Hartbeespoort se 100ste verjaarsdag te herdenk.
Die besondere konstruksie is deur Pick n Pay Village Mall geborg en sal voortaan deel wees van die skool se tradisie om Graad 1-leerders te verwelkom en van Graad 7-leerders afskeid te neem.
“My droom van ‘n Arc de Triomphe het 3 jaar gelede ontstaan. Die idee was dat ons vir die skool se 70ste verjaarsdag en Hartbeespoort se Eeufeesviering, iets persoonlik van die dorp by die skool as ‘n monument oprig. En wat beter as die welbekende Arc de Triomphe wat op die damwal pryk,” sê Francois Steyn, hoof van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman.
Ek het hierdie droom met die adjunkhoof, Marielouise Pretorius, gedeel en sy het vinnig aan die werk gespring en borge begin soek aangesien ons nie hiervoor begroot het nie. Pick n Pay Hartbeespoort was ons dadelik goedgesind en sonder om ‘n oog te knip was hulle aan boord. Ons wil ons groot dank uitspreek aan Donovan Powell, Jannie Bezuidenhout en Jacques Snyman van Pick n Pay vir die reuse R100 000-borgskap. Die Graad 7’s van 2023 het ‘n bykomende R30 000 geskenk om hierdie droom en monument op die skoolterrein te verwesenlik. Ons het ‘n tradisie by die skool begin waar elke Graad 1-leerder met die eerste dag teen die gedenkmonument se trappe opstap, ‘n foto saam met die hoof neem onder die Arc de Triomphe en dan deurloop as simbool van hulle eerste tree in die skool. Aan die einde van die Graad 7-leerders se skoolloopbaan by GHS, sal hulle van bo deur die Arc de Triomphe stap, ‘n foto saam met die hoof neem, en met die trappe af hulle laaste tree uit die skool gee,” sê Steyn.
Die skool het ook spesiale dank uitgespreek aan Thinus Basson wat vir die konstruksie van die Arc de Triomphe verantwoordelik was, sowel as Njati Construction vir die uitstekende bouwerk.
“Ons hoop dat hierdie tradisie ‘n rooiletterdag in elke Schoemie se lewe sal wees.”