Bekende smaakmakers maak pret in Pick n Pay

08/05/2025News

Twee bekende smaakmakers op sosiale media, Albert Bredenhann en Nastassja Ras, het Maandag in Hartbeespoort ‘n draai gemaak om hul meer as 15 miljoen aanhangers met ‘n video in Pick n Pay Harties in Village Mall te vermaak.

Albert Bredenhann en Nastassja Ras.

Dié twee grapmakers wat mense beïnvloed met hul streke op X (Tik Tok), Instagram en Facebook, is deur die bestuur van Pick n Pay Harties genader om dié gewilde supermark op sosiale media te bemark.
Nastassja en Albert gebruik humor om verskillende produkte te bemark en hulle volgelinge op sosiale media platforms kan nie wag vir hul gereelde manewales nie. Die duo reis deesdae landswyd om enigiets van familierestaurante tot bakkiekappe bloot te stel. Hulle onverwagse “rise to fame” het sowat drie jaar gelede toevallig tydens ‘n bierfees in Pretoria oor ‘n Jägermeister begin. Hulle het spontaan ‘n video gemaak en dit het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.
“Dit was die begin en toe begin ons versoeke kry om produkte te bemark. En nou is dit ons werk,” sê Nastassja wat onthou sal word as die wenner van die gewilde DSTV televisiereeks “Houvrou of trouvrou” se eerste seisoen. Albert was voorheen ‘n “celebrity” fotograaf en natuurlik is hy die een agter die kamera in die prettige videos.
“Ons het nou al meer as 4 000 videos van Keimoes tot in die Kaap gemaak,” sê Albert. “Ons bereik meer as 15 miljoen mense per maand. Ons wil glimlagte op mense se gesigte sit. Ons probeer die wêreld ‘n beter plek maak.”
Jacques Snyman, bestuurder van Pick n Pay Harties het die twee gekontak om ‘n draai in Hartbeespoort te maak. “Ek is ‘n groot aanhanger van X en ander sosiale media en ek wou hulle hier hê om ons winkel op ‘n ander, meer prettige, manier te bemark. Hulle is snaaks en bring humor na alles,” sê Snyman.
Volg Nastassja en Albert op X @nastassja_ras en Nastassja Ras op Facebook, en Instagram @nastassjaras, en wees op die uitkyk vir one eie Pick n Pay Harties video.